Lees volledig by Kultuurdagboek
Wie nie vir Hendrik Susan onthou nie is òf nog mooi en jonk, òf nie 'n boeremusiekliefhebber nie. Vandag, in 1903, is Hendrik Susan gebore. Hy was 'n violis van formaat en leier van sy eie Boere-orkes. Die instelling van 'n Afrikaanse radiodiens en die opstuwing van volksgevoel wat die Voortrekkereeufeesvierings veroorsaak het, het die behoefte aan 'n eiersoortige musiek skerp laat toeneem. Die musiek wat op die plase en dorpe gemaak is, met 'n sterk eie kleur en 'n algemene styl en klankpatroon, was die vanselfsprekende bron.
Hendrik Susan was daardie tyd in sy fleur; hy was 'n vaardige musikant en 'n leierpersoonlikheid wat deurdrenk was met die idioom van hierdie musiek. Hy het die standaard van die spel opgehef, ou melodieë opgediep, jong komponiste aangemoedig om nuwe melodieë te maak en die aanbiedingstyl te verbeter. Met sy vaderlike goedhartigheid het hy jong musikante in sy orkes opgelei en hulle sonder afguns of argwaan vrygelaat om hulle eie orkeste te stig. So het hy vader gestaan vir 'n hele beweging wat 'n grondslag vir 'n ontwikkelende ligte musiek met 'n eie kleur daargestel het. Sy invloed duur steeds voort. Hy is op 25 April 1963 oorlede.