2 MEI 1957: DIE STEM VAN SA WORD AMPTELIKE VOLKSLIED

KULTUURDAGBOEK 2 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op 30 en 31 Mei 1918 het CJ Langenhoven in sy woning, Arbeidsgenot op Oudtshoorn, die woorde van die eerste drie verse van Die Stem van Suid-Afrika gedig en terselfdertyd 'n melodie vir die woorde gekomponeer. Albei is kort hierna uitgegee, en het ook in Die Burger verskyn onder die skuilnaam KRN.

Allerweë is die woorde geprys en die musiek het kritiek uitgelok. Langenhoven besluit toe om 'n ope wedstryd aan te kondig om 'n geskikte melodie te verkry vir die gedig, wat intussen 'n vierde vers bygekry het. Talle komponiste, onder andere Emiel Hullebroeck, Gideon Fagan, Stephen Eyssen, Walter Spiethoff, Victor Potgieter en andere het in die loop van die volgende tien jaar hul pogings aan Langenhoven voorgelê; elkeen het in 'n beperkte kring 'n mate van bekendheid verwerf maar nie een het werklik by die volk as geheel ingang gevind nie.

Na 'n vroeë poging in 1919 wat nie geslaag het nie, het ds ML de Villiers in 1921 in sy pastorie op Simonstad die toonsetting voltooi wat, afgesien van 'n paar klein veranderinge, dieselfde is as wat vandag nog gesing word. Langenhoven gee hiervoor verlof tot publikasie, en ML spring dadelik aan die werk om dit so spoedig moontlik aan die Afrikanervolk bekend te stel.

Veral ná die publieke uitvoering van die werk in die Groote Kerk, Kaapstad, in 1924, die gebruik van die melodie by die afsluiting van die daaglikse radioprogramme en die Regering se keuse van hierdie toonsetting om by die eerste vlaghysing van die nuwe Unievlag in Kaapstad op 31 Mei 1928 gesing te word, het die Afrikaner dit as iets van sy eie begin aanvaar en het dit 'n nasionale simbool begin word.

Stukrag is aan die saak van 'n verkryging van 'n volkslied gegee deur die FAK wat in 1931 'n wedstryd uitgeskryf het en die inisiatief geneem het vir die belê van twee 'Volksliedvergaderings' en die aankondiging van 'n verdere wedstryd. Oor die ingesonde gedigte het die keurkomitee eenparig Langenhoven se Die Stem aanbeveel, en toe die 40 toonsettings vir dié gedig beoordeel moes word, het die komitee van vyf, wat twee Engelssprekendes ingesluit het, in 1937 eenparig tot ML de Villiers s'n besluit en die hoop uitgespreek dat die verdere stappe ( ook 'n Engelse vertaling, ens) spoedig gedoen sal kan word om vir hierdie amptelike lied erkenning te kry as die volkslied van die Unie van Suid-Afrika.

Met die opening van die Parlement in 1938, het genl Hertzog hierdie toonsetting van Die Stem tesame met God save the King laat speel.

In Julie 1938 besluit die Volksraad dat "...by alle formele geleenthede onder toesig van die Regering waar God save the King, of Die Stem, gespeel word, albei gespeel sal word." Na 'n mislukte poging deur dr DF Malan in 1939 om Die Stem as die enigste Volkslied aanvaar te kry, breek die Tweede Wêreldoorlog uit en word die Volksliedvraagstuk op die lange baan geskuif.

Dit het egter nuwe lewe gekry toe die Engelse vertaling deur die Regering aanvaar is en op 5 April 1952 as deel van die Van Riebeeck-vieringe in Kaapstad vir die eerste keer gesing is. Hierdie vertaling was 'n gesamentlike poging van 'n komitee uit die 200 vertalinge wat hulle onder oë gekry het.

In 1956 stel die Eerste Minister, adv JG Strydom, in die Volksraad voor "... dat die verkryging van een vlag en volkslied as nasionale simbole 'n stap voorwaarts sal wees na die bereiking van die begeerde volkseenheid."

Op 2 Mei 1957 vervolg hy, weer in die Volksraad, dat "...hierdie lied, Die Stem van Suid-Afrika, by Afrikaans- sowel as Engelssprekendes so diep ingewortel is dat 'n mens vandag sonder die minste teenspraak kan sê dat hierdie lied deur die volk van Suid-Afrika aanvaar is as hul Volkslied."

Hierdie verklaring is deur 'n voorstel opgevolg wat eenparig deur die Parlement goedgekeur is, en die land het uiteindelik sy eie amptelike Volkslied gehad.