1882: HOLLANDS IN KAAPSE PARLEMENT TOEGELAAT

KULTUURDAGBOEK 1 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

Vanweë Brittanje se verengelsingsbeleid sedert 1806, het die Kaaplandse Afrikaners wat daaraan blootgestel is, weldra tot verset gekom. Reeds op 13 Mei 1857 het dr Tancred 'n versoekskrif van die distrik Albert in Burgersdorp, aan die Wetgewende Vergadering voorgelê waarin versoek is dat lede van die Parlement ook Nederlands in die debatte mag besig.

Ruim twintig jaar later skryf Die Patriot ook oor die verkeerde toedrag van sake en verseker dat "so lank as die Parlement in Engels gehou word, sal dit nooit beter gaan nie".
In 1881 het die koerant 'n bondgenoot in die Kaapse Sinode gevind, wat besluit het om petisies te laat teken met die oog op die verkryging van gelyke regte vir Hollands. Duisende handtekening word ingesamel. Op inisiatief van JH Hofmeyr het ds WP de Villiers op 7 Junie 1881 'n mosie ingedien wat nie tot stemming gebring kon word voordat die Parlement verdaag het nie.

In 1882 is verdere versoeke gevolglik gerig. Die hele aangeleentheid het weldra 'n groot politieke twis ontketen – 'n rusie wat met Hollands weinig te doen gehad het en veel met Jan Hofmeyr, premier Scanlen, John X Merriman en ander.

Op 30 Maart 1882 het Hofmeyr 'n skitterende pleidooi gelewer. Die saak is deur Saul Solomon verder gevoer. Bo alle verwagting was daar byna geen teenkanting toe die saak finaal voorgelê is nie.

Op 1 Mei 1882 is die wetsontwerp deur die Laerhuis aangeneem.

Op 9 Junie 1882 was dit wet. JG Luttig was die eerste lid wat amptelik in Hollands gepraat het. Lank daarna was daar nog kritiek van Engelstalige kant teen die wetgewing, maar Hollands het onkeerbaar veld gewen. Die een amptelike terrein na die ander het vir Hollands begin oopgaan.

Teen 1890 was Hollands reeds in byna elke opsig formeel gelyk met Engels geplaas. Hieruit sou Afrikaans en die Afrikaner weer na vore beur.