KULTUURDAGBOEK 29 APRIL
Teen dié tyd het 'n aantal Transvaalse Boere begin om Transvaal te verlaat opsoek na 'n beter tuiste in die onbekende binneland. Die eerste trekgroep het onder leiding van Gert Alberts gestaan en was deeglik georganiseer. Die elf families wat die voortou geneem het in 'n trek wat later as 'n rampspoedige onderneming sou blyk, het daarin geslaag om met redelike sukses tot by die Ngamimeer te trek. Dit was egter die groep wat hierná onder leiding van Jan Greyling en Louw du Plessis langs die Krokodilrivier versamel het, wat die grootste teëspoed sou ervaar.
Na veel oponthoud het 480 blankes en 'n aantal bediendes met 128 waens en 1 958 trekosse in April 1877 die Kalahari aangedurf.
Van die begin was daar al onderlinge tweespalt. Boonop was die trek geheel en al te groot vir 'n roete waar water uiters skaars was. Op plekke moes die water lepelsgewys uitgedeel word, of modder deur handdoeke en hemde gedruk word vir vogtigheid. Die meeste van die vee is in die proses verloor en 37 mense het die eerste twee maande gesterf. Vele sou nog later die lewe laat.
'n Derde, dog kleiner trek het kort hierna die Kalahari veilig deurgetrek. Maar die Trek as sodanig is eers grootliks beëindig toe grondgebied teen 1881 in Angola van die Portugese owerheid verkry is.