PUKKE VERKRY STATUS

Lees volledig by Kultuurdagboek

1951: PU VIR CHO KRY VOLWAARDIGE UNIVERSITEITSKAMPUS

Op dié dag het die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys sy status as volwaardige, selfstandige universiteit verkry. Hierdie Universiteit se beginjare lê baie ver terug, want hy het sy ontstaan uit die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, wat op 29 November 1869 op Burgersdorp, Kaapland, opgerig is.

Naas teologiese opleiding, het hierdie skool literariese opleiding verskaf, ook aan studente wat nie predikante wou word nie. In 1876 is die sogenaamde Literariese Departement aan die Teologiese Skool in die lewe geroep om dié opleiding te verskaf. Dit is gedoen totdat veranderende omstandighede en probleme as gevolg van die universiteitswetgewing van 1916, die Gereformeerde Kerk gedwing het om die Teologiese Skool en die Literariese Departement van mekaar te skei en laasgenoemde in 1919 om te vorm tot 'n aparte universiteitskollege – "Het Potchefstroomse Universiteitskollege voor Kristelike Hoger Onderwijs" – onder beheer van 'n eie raad.

Soos sy van aandui, was dit 'n universiteitskollege met 'n bepaalde doel: om Christelike hoër onderwys te verskaf. Die sogenaamde gewetensklousule, vervat in die 1916-wet, het dit vir die PUK vir KHO onmoontlik gemaak om van die regering subsidie te ontvang, veral toe noodsaaklikerwys pogings in die werk gestel om die Kollege by die Universiteit van Suid-Afrika te inkorporeer. Dit het in 1921 geskied, maar teen die prys van verlies van sy van, naamlik "vir KHO".

Naas die voortsetting van sy universitêre werk, onder werklik moeilike omstandighede, het die destydse rektor, prof F Postma, bygestaan deur prof JD du Toit, ander Potchefstroomse kollegas en vorige ondersteuners en gewaardeerde medewerkers dwarsoor die hele land geen steen onaangeroer gelaat om die volle naam van die Universiteit herstel te kry nie. Dit het na lange jare in 1933 gebeur, toe die naam van die inrigting deur wetgewing herstel is tot Die Potchefstroomse Universiteitskollege vir Christelike Hoër Onderwys. Na hierdie naamsherstelling het die PUK vir CHO sy werksaamhede as samestellende kollege van die Unviersiteit van Suid-Afrika voortgesit en het die inrigting, ten spyte van ernstige geldelike kwellinge, veral na 1945 so uitgebrei dat saam met ander samestellende kolleges van die Universiteit van Suid-Afrika in 1947 die eerste stappe in die rigting van selfstandigwording gedoen is. Hierdie ideaal is op 17 Maart 1950 verwesenlik na 'n spanningsvolle stryd om die selfstandige universiteit vrygestel te kry van die gewetensklousule, en sy Christelik-historiese karakter en roeping in sy wet deur die Regering van die land erken te kry.