KULTUURDAGBOEK 4 MAART

Die vyfde en laaste staatspresident van die Republiek van die Oranje-Vrijstaat, Marthinus Theunis Steyn, is in 1896 in die amp beëdig en lê sy ampseed in die Tweetoringkerk in Bloemfontein af, waaruit hy ook begrawe is. Hy was die eerste Vrystaatgebore president.

Gerard Leendert Pieter Moerdijk, Suid-Afrikaanse argitek (oa van die Voortrekkermonument in Pretoria) is in 1890 op die plaas Zwaershoek naby Nylstroom in Transvaal gebore. Sy ouers was Hollandse immigrante en hy was saam met sy gesin as 10-jarige seun in die Standertonse konsentrasiekamp tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Hy is deur die Suid-Afrikaanse Universiteit van Pretoria met 'n eredoktorsgraad vereer. Sy vrou was 'n kleinniggie van pres Paul Kruger.