GEBED VAN JAN VAN RIEBEECK

6 APRIL 1652

O Barmhartige Goedertieren God en Hemelse Vader,
waar dit u Goddelike Majesteit behaag het om ons tot die bestuur van die sake van die Verenigde Nederlandse Oos Indiese Kompanjie
alhier aan die Kaap die Goeie Hoop te beroep
en ons tot die doel met ons aanwesige Raad in u Heilige Naam vergader is om met hulle advies sodanige besluite te neem waarmee die grootste diens
van die gemelde Kompanjie bevorder, die reg gehandhaaf,
en onder hierdie wilde brutale mense indien moontlik u ware gereformeerde Christelike Leer mettertyd voortgeplant en verbrei mag word, tot die lof en eer van u Heilige Naam en die welstand van ons Here Prinsipale – waartoe ons sonder u genadige hulp allermins in staat is –
so bid ons U derhalwe, o allergenadigste Vader, dat U ons met u vaderlike wysheid wil besoek, en in ons vergaderinge sal voorgaan en ons harte so sal verlig dat alle verkeerde gevoelens, misverstande en ander dergelike gebreke van ons geweer mag bly, teneinde ons harte van alle menslike aantastings te reinig, en ons gemoedere so gesteld
dat ons in ons beraadslaginge niks anders mag voorneem of besluit
as wat mag strek tot grootmaking en lof van u allerheiligste Naam,
en die beste diens van ons Here en meesters sonder om in enige mate
op eie baat of persoonlike wins ag te gee, dit en nog baie meer wat tot die uitvoering van ons opgedraagde dienste en saligheid nodig mag wees.
Ons bid en begeer dit in die Naam van u geliefde Seun,
ons Heiland en Saligmaker Jesus Christus wat ons leer bid het:
Onse Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word.
Laat u Koninkryk kom.
Laat u wil geskied, soos in die hemel so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons daaglikse brood,
en vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.
En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose.
Want aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen.