KULTUURDAGBOEK 18 FEBRUARIE

Martin (Maarten) Luther, Duitse monnik, Bybelvertaler, kerkhervormer en professor in teologie, is in 1546 in sy geboortedorp, Eisleben in Duitsland, oorlede. Hy het onder andere in 1521 voor die Ryksdag van Worms verskyn om sy standpunt dat die Bybel die enigste gesaghebbende openbaring van God is, te verdedig.

Die Montagu-pas in die Wes-Kaap is op hierdie dag in 1848 in gebruik geneem. Dit is gebou deur Henry Fancourt White, die seun van Britse Setlaars. Henry se huis wat hy van sy vader gekoop het en vernoem is na die familie Fancourt, is vandag 'n nasionale monument.