25 MAART 1943
Johannes van der Walt, stoeier, sport- en volksheld en lid van die Ossewa-Brandwag, sterf as verlamde as gevolg van 'n polisiekoeël in 1942. Sy begrafnis op 28 Maart 1943 in Johannesburg word deur ongeveer 50 000 Afrikaners bygewoon. 'n Gendenkplaat is vir hom op 10 Oktober 1975 by RAU onthul.
Die boodskap wat hy aan sy volk nalaat kon net sowel vandag geskryf gewees het, met die een verskil dat die onderdrukking onder die huidige regime met die doel en uiteinde daarvan veel erger is as ooit te vore:
BOODSKAP AAN MY VOLK
My Afrikanerbroer en -suster,
My lyding is versag omdat my volk my nie vergeet het nie. Uit die diepte van my hart bedank ek almal vir hul meegevoel.
Hier, waar ek magteloos lê, voel ek ook die magteloosheid van my volk, omdat hy deur broedertwis verlam word, en ek vra myself af of al die opofferinge en lyding van die verlede dan tevergeefs was. Moet die Boerevolk, wat die beskawing hier gevestig het, wat die mag van die barbaredom gebreek het, wat sulke roemryke oorwinnings behaal het, dan nou vernietig word?
Wanneer twee mense vir hul lewe moet swem na ’n skip en moet worstel met die golwe van die see, sal hulle albei verdrink as hulle in die see met mekaar begin stoei. As hulle graag wil stoei, laat hulle dan wag tot hulle op die skip is. Daar kan vir hulle reëls en perke gestel word en daar het hulle vastigheid onder hul voete. Dan het hulle die skip. Dan sal hulle, na die vermoeiende worsteling met die golwe, ook nie meer met mekaar wil stoei nie, maar iewers wil voel hoe dit is om met die skip te ry.
Ek doen hiermee uit die grond van my hart ’n ernstige beroep op alle Afrikaners om die onderlinge stryd te staak. Laat ons ons oë nie langer op ons mede-Afrikaner rig om te kyk of daar ’n splinter in sy oog is nie, maar laat ons almal kyk na die ontsettende gevare wat oor ons en ons kinders saampak. En laat ons ons oë rig op die Almagtige en ons voor Hom verootmoedig. Dan sal ons die onverdraagsaamheid teenoor mede-Afrikaners van ons afskud, soos ’n mens die stof van jou afskud wanneer jy daaruit opstaan. Dan sal ons in Christelike broederliefde mekaar se hand vat en so sal ons getrou wees aan ons roeping as Boerevolk, en aan ons voorgeslag en ons nageslag.
JOHANNES VAN DER WALT.