KULTUURDAGBOEK 18 JANUARIE

Goew Jan Anthoniszoon van Riebeeck, 'chirurgyn', barbier, koopman, eerste goewerneur van die Verenigde Oos-Indiese Companjie aan die Kaap (1652 – 1662) en rade van Indië, is in 1677 in Batavië oorlede. Brokstukke van sy grafsteen is in 1897 ontdek en met behulp van J de V Roos aan die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad geskenk waar dit gerestoureer en saam met dié van sy vrou, Maria de la Quillerie, bewaar word.

Kmdt Gideon Jacobus Scheepers, heliografis van die ZAR-staatsartillerie en instrukteur by die OVS-telegrafie-afdeling, word, strydig met die Haagse Konvensie, in 1902 deur die Britse magte buite Graaff-Reinet gefusilleer. Sy liggaam is in die geheim daardie aand deur die Britte herbegrawe en is nooit weer gevind nie.

Ds Andrew Murray jr, Calvinisties-gereformeerde predikant, skrywer en stigter van verskeie Suid-Afrikaanse tersiêre instellings oa die Hugenote Seminarie (1874), die Sendinginstituut (1877) en die Mannesendingbond (1908), is in 1917 op Wellington in die Wes-Kaap in die ouderdom van 88 jaar oorlede. Die Skotse sendeling en NG-predikant, ds Andrew Murray sr, was natuurlik sy pa.

Ds James Murray Louw, leraar en stigter van die eerste CNO – Skool (Christelik Nasionale Onderwys) ná die Tweede Vryheidsoorlog in Boksburg, is in 1869 op Murraysburg gebore. Hy is die seun van ds AA Louw en kleinseun van die Skotse immigrant, ds Andrew Murray sr.