KULTUURDAGBOEK 30 DESEMBER

Na aanleiding van 'n byeenkoms op Paardekraal, Krugersdorp, word die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) deur die verkose driemanskap Paul Kruger, Piet Joubert, en MW Pretorius in 1880 uitgeroep.

Adv Jan Hendrik Hofmeyr de Waal, eerste advokaat wat 'n saak in die hooggeregshof in Afrikaans bepleit (1898), redakteur van die maandblad De Goede Hoop, stigterslid van die Afrikaanse Taalvereniging, NP-LV, Speaker van die Volksraad (1929), dramaturg en skrywer van die eerste Afrikaanse historiese roman Johannes van Wyk, is op hierdie dag in 1877 op die plaas Bakkerskloof, Somerset-Wes in die Kaap gebore.