1816: SLAGTERSNEK

KULTUURDAGBOEK 9 MAART

Lees volledig by Kultuurdagboek

Wat rondom Slagtersnek gebeur het, is as historiese feit in die geskiedenis van die Afrikanervolk as sodanig nie belangrik nie. Belangriker miskien is die agtergrond waarteen hierdie rebellie plaasgevind het en die invloed wat dit gehad het om die gevoel van nasionalisme en eenheid by die Afrikaner aan te wakker en te stimuleer.

Die hooffigure in die rebellie van 1815 was Freek Bezuidenhout, sy broer Hans en die vyf tereggesteldes. Cornelis Frederik Bzuidenhout, wat as grensboer aan die Baviaansrivier gewoon het, is deur landdros A. Stockenström gedagvaar om op 5 Oktober 1815 voor die Rondgaande Hof op Graaff-Reinet te verskyn op 'n aanklag wat teen hom ingebring is deur die Hottentot Booi.

Hy daag nie by die hof op nie en word in sy afwesigheid tot een maand tronkstraf gevonnis oor minagting van die hof. Daarna is 'n opdrag vir sy inhegtenisneming gegee. Luit. F. Rousseau, vergesel van die onderbalju, J. Londt, 'n berede polisieman Gerrit Lemke, vaandrig William McKay en twaalf lede van die Kaapsche Regiment ('n Hottentotregiment wat in die volksmond bekend gestaan het as Pandoere) word gestuur om Bezuidenhout te arresteer.

Met hul aankoms op die plaas vlug Bezuidenhout, sy basterseun Hans en ene Jacob Erasmus na 'n nabygeleë grot, en uiteindelik is Bezuidenhout dodelik getref deur 'n koeël van sers. Joseph, 'n Hottentotsoldaat. Op sy begrafnis het sy broer, Johannes Jurgen (Hans), wraak gesweer teen die owerhede wat verantwoordelik was vir sy broer se dood. Hy en Hendrik Frederik Prinsloo het begin om 'n opstand aan die Oosgrens te organiseer. Die rebelle is uiteindelik tot oorgawe gedwing. Hans Bezuidenhout is dodelik gewond, en die res is op 15 Desember 1815 in die landdroshof op Uitenhage verhoor; een is begenadig deur lord Charles Somerset; die ander, naamlik Cornelis Faber (43 jaar), 'n swaer van Hans Bezuidenhout, Stephanus Cornelis Bothma (43 jaar), en sy broer Abraham Carel Bothma (29 jaar), Hendrik Frederik Prinsloo (32 jaar) en Theunis Christiaan de Klerk (30 jaar), 'n swaer van Prinsloo, is die doodstraf opgelê.

Op 9 Maart 1816 is hierdie vyf op Van Aardtspos, 20 km suid van Slagtersnek, in die openbaar opgehang.

Ds. T.J. Herold, leraar te George, en dr. G. Glaeser, geneesheer van die Kaapsche Regiment, was onder die aanwesiges om hul laaste dienste te bewys. Stephanus Bothma het die omstanders toegespreek en hulle vir oulaas gemaan om die owerhede gehoorsaam te wees. Toe die toue van vier van die veroordeeldes breek, het hulle, half verwurg, landdros Cuyler gesmeek om genade. Cuyler se antwoord was dat hy nie die mag daartoe het nie, en hulle is een vir een opgehang. Bittere haat teen die owerhede oor die strenge vonnisse en onmenslikheid van die teregstelling het onder die bevolking van die Oos-grens posgevat. Die geelhoutbalk waaraan die vyf rebelle opgehang is, is in die kelder van die Staatsargief in Pretoria.