KULTUURDAGBOEK 8 MAART
Lees volledig by Kultuurdagboek
Theophilus Ebenhaezer Dönges is op hierdie dag op Klerksdorp gebore. As student op Stellenbosch verwerf hy die grade BA en MA (Filosofie) met onderskeiding, waarna hy hom aan die Universiteit van Londen in die regte bekwaam. In 1925 verwerf hy die LLD-graad aan hierdie universteit.
Terug in Suid-Afrika tree hy tot die joernalistiek toe, onder meer as hoof-assistentredakteur van Die Burger.
Vanaf 1927 tot 1948 het hy as regsgeleerde gepraktiseer. In hierdie tyd het hy reeds begin om 'n prominente rol in die godsdienstige, kulturele en ekonomiese lewe van die Afrikaner te speel. Hy dien as bestuurslid in verskeie organisasies, onder meer as ondervoorsitter van die FAK.
In 1941 tree hy tot die politiek toe as LV vir Fauresmith. Daarna volg 'n lang en toegewyde politieke loopbaan, onder meer as Minister van Binnelandse Sake vanaf 1948, Kaaplandse leier van die Nasionale Party vanaf 1953, en Minister van Finansies vanaf 1958.
Die kroon word op die openbare loopbaan van die innemende dr Dönges gespan toe hy in 1967 as Staatspresident aangewys word. Ernstige siekte en sy dood in Januarie 1968 het verhinder dat hy die amp kon beklee.