KULTUURDAGBOEK 2 MAART
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die geskiedenis van die Universiteit van Stellenbosch strek terug tot in die jaar 1866 toe die openbare skool op die dorp volgens die Onderswyswet van 1865 as die Stellenbosch Gynmasium gereorganiseer is.
Die aanvoorwerk vir die totstandkoming van die Gymnasium is gedoen deur proff.J Muray en NJ Hofmeyr van die Teologiese Seminarium in samewerking met die plaaslike predikant, ds JH Neethling. Hierdie drie manne is dan ook as die stigters van die Universteit van Stellenbosch bekend. Die Gynmasium het in 1881 die Stellenbosch College geword.
In 1887, die jaar van die 50 jarige Jubileum van die regering van koningin Victoria van Brittanje, is die naam verander in die Victoria-Kollege van Stellenbosch.
Dr DF Malan wat later Suid-Afrika se vierde premier sou word, het 'n groot aandeel gehad in die vervanging van die Victoria-Kollege deur die Universiteit van Stellenbosch op 2 April 1918. Hy was saam met prof A Moorrees en mnr JG van der Horst die mede-opsteller vir voorlegging aan die owerhede van die klassieke memorandum waarin Stellenbosch aangedui word as die plek waar die Afrikanervolk sy ideale verwesenlik kan sien en die grootse invloed op Suid-Afrika kan uitoefen.
In die verlede het die universiteit Afrikaners opgelewer wat op alle terreine en in alle beroepe in ons land 'n belangrike rol gespeel het. Tot 1978 het byvoorbeeld ses van Suid-Afrika se sewe eerste ministers aan hierdie universiteit studeer.
Die universiteit het in 1978 11,438 studente in sy 12 fakulteite gehad. Op daardie tydstip was van die fakulteite Bosbou en Krygskunde, wat die enigste in hulle soort aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit was; Lettere en Wysbegeerte; Natuurwetenskappe; Opvoedkunde; Landbou; Regsgeleerdheid; Teologie; Handel en Admnistrasie; Ingenieurswese; Geneeskunde en Tandheelkunde.
Op sportgebied het die universiteit oor van die beste geriewe vir elke sportsoort beskik. Baie van die land se knapste sportsterre is op Stellenbosch gekweek.