1854: OVS KOM TOT STAND

KULTUURDAGBOEK 23 FEBRUARIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Nadat sir Harry Smith die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier tot die Oranjerivier-Soewereiniteit verklaar het, sou die Republikeinse Trekkers met die steun van Andries Pretorius tevergeefs by Boomplaats in Augustus 1848 die gebied probeer herwin. Die Britse gesag is opnuut bevestig, maar dit is halstarrig en onwillig deur die Boere aanvaar.

Ook Mosjesj, die Basoeto-opperhoof, het in vyandskap met die gebied geleef en die Britse resident, maj. H.D. Warden, het dit moeilik gevind om die Basoeto's se roofaanvalle op die blankes te bekamp. Hy het sake vir homself nog moeiliker gemaak deur hom voortdurend in te meng met die onderlinge twiste tussen die inboorlingkapteins en ander stamme in die gebied.

Die prestige van die Britse gesag is 'n ernstige knou toegedien toe Warden deur die Basoeto's in 1851 by Viervoet verslaan is, veral omdat hy nie die steun van die Boere in die stryd geniet het nie.

Hierdie chaotiese toestand wat meer Britse troepe geverg het, maar geweier is, omdat die regering in Brittanje teen verdere uitbreiding in Suid-Afrika gekant was, het tesame met ernstige probleme aan die Kaapse oosgrens die Britse owerheid laat besluit dat dit voordeliger sou wees om die Soewereiniteit prys te gee. 'n Uitvloeisel hiervan was die sluiting van die Sandrivier-konvensie, waardeur Transvaal in 1852 sy onafhanklikheid verkry het. Die kommissarisse, Hogge en Owen, wat die onderhandelinge gevoer het, het ook sake in die Soewereiniteit ondersoek en eweneens aanbeveel dat die gebied prysgegee moet word indien nie meer troepe daarheen gestuur kan word nie.

Sir Harry Smith het steeds wal gegooi vir die behoud van sy destydse gedagte, maar toe hy in die begin van 1852 deur sir George Cathcart vervang is, was die skrif aan die muur. Cathcart was daarvan oortuig dat die Britse gesag aan die gebied onttrek moet word, maar voordat die geskied, wou hy die Basoeto's oor al hul aanvalle op die gebied eers op hul plek sit. Die omgekeerde vind plaas, want sy sterk mag word in Desember 1852 gevoelig by Bereaberg verslaan, en hy word gedwing om 'n vredesaanbod te aanvaar. Hierop het die Britse Sekretaris van staat en kolonies besluit dat die gebied aan die oorspronklike inwoners teruggegee moet word en sou dit net 'n klein klompie lojale Boere en die invloedryke Engelse winkeliers en grondspekulante wees wat die Britse vlag oor die gebied wou sien wapper.  Sir George Clerk is as spesiale kommissaris na Bloemfontein gestuur om die opsegging deur te voer.

In Augustus 1853 onderhandel hy met 95 gemanipuleerde afgevaardigdes wat weier om die Britse gesag prys te gee. Nuwe afgevaardigdes, 25 verteenwoordigers, word onder die republikeinsgesinde inwoners gekies wat in die ou Raadsaaltjie in St. Georgestraat met Clerk onderhandelinge voer om die gebied oor te neem. Tot op die laaste het die Engelssprekendes bly protesteer. Selfs dr. A.J. Fraser en ds. Andrew Murray is vir die doel na Engeland gestuur.

Só hewig en luidrugtig was die teenstand, dat die finale ondertekening van die Bloemfontein-konvensie in die Britse Green Lodge, digby die ou Raadsaaltjie moes plaasvind.  Die ondertekening van die konvensie op 23 Februarie 1854 het die totstandkoming van die Oranje-Vrystaat beteken en kon J.P. Hoffman as waarnemende Staatspresident verklaar: “Landgenoten! Medeburgers! De dag van heden was een der zeldzame, indien niet de eenigste, in de wereldgeschiedenis, en voor ons de geboortedag onzer onafhankelijkheid. Wat wij op denzelven werden, verkregen wij ongevraad, terwijl andere volken, voor dit dierbaar kleinood, jaren strijk en stroomen bloeds offerden, ontvingen wij door slechts te nemen wat ons aangeboden werd.

Omdat die Afrikaners nog oor min ervaring beskik het, is die taak van ‘n grondwet aan die Nederlandse onderwyser, Jacobus Groenendaal toevertrou. Groenendaal het as leidraad die Amerikaanse konstitusie van 1787 gebruik. Voorts het hy hom verlaat op die ampte en politieke instellings wat die Voortrekkers sedert 1836 self geskep het. Die Volksraad, wat deur dit stemgeregtigde burgers aangewys is, was die vernaamste bestuursorgaan. Groenendaal het in sy konstitusie ook gesorg vir ‘n amp wat in die geskiedenis van die Afrikaanse volk tototaal nuut was: dié van staatspresident wat deur die burgers gekies is en wat aan die hoof van die uitvoerende gesag gestaan het. Hierdie amp het Groenendaal aan die Amerikaanse konstitusie ontleen. Vryheid, republiek, president – saam het hierdie woorde 'n trits gevorm wat die politieke denke van die Afrikkaner diep beïnvloed het. Die gemene reg in die Vrystaat was die Romeins-Hollandse reg. Onder hierdie konstitusie, wat min veranderings ondergaan het, is die Vrystaat van 1854 tot 1902 bestuur.