KULTUURDAGBOEK 21 JANUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Op hierdie dag het die eerste “nege vrije luyden" grond aan die Kaap gekry. Die burgers kon hulle eie grond uitkies en is in twee kolonies gevestig, nl. Harmanskolonie en Stevenskolonie. Hulle moes die landbou op vasgestelde voorwaardes bevorder. Die Kompanjie sou aan die Vryburgers plaasgereedskap en trekosse voorsien, en verdere benodigdhede kon hulle op krediet van die Kompanjie koop.
Dit was hulle toegelaat om vrylik handel te dryf met die skepe vanaf die derde dag dat die bote die hawe binnegekom het.
Onder hierdie bedeling sou die burgers dus vrygestel word van diens aan die VOC. Die volksplanting is bevestig en volkswording is moontlik gemaak. Die Vryburgers se status het verander van werknemers tot werkgewers, en hulle sou op selfstandige wyse die beroep beoefen wat hulle nageslagte jare lank na hulle sou doen, naamlik dié van boer, waaruit die eretitel Boer gegroei het.
Die feit dat hulle nou grondbesitters was, het die Vryburgers in die Suid-Afrikaanse bodem laat wortelskiet; dit het aan hulle 'n eie trots gegee en later 'n nasionale gevoel en 'n gevoel van samehorigheid gekweek. Die feit dat hulle vrye burgers was, het hulle in die geleentheid gestel om later die binneland te verken en plase noordwaarts te beset om sodoende die blanke beskawing uit te dra. Hulle was nou nie meer emigrante-arbeiders weg van Nederland nie — Suid-Afrika het hulle vaderland geword.
Die instelling van die Vryburgers kan dus beskou word as die geboorte van die Afrikaanse volk. Hier het ons volk sy eie tuiste gevind as grondbesitters in 'n eie land.