1902: KMDT GIDEON SCHEEPERS TERREGGESTEL

 KULTUURDAGBOEK 18 FEBRUARIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op die ouderdom van sestien het Gideon Jacobus Scheepers tot die Transvaalse Artillerie in Pretoria toegetree. Vanaf 1894 dus sou hy in militêre kringe beweeg. Hy was skrander, fier, bekwaam en baie gewild. Die manne het hom Die Springbok van die Hoëveld begin noem.

Scheepers is opgelei as heliograaf deur luit. Paul C. Paff, en sy skoolonderrig het onder maj. Thomas Kroon voortgegaan. Heliografie is 'n metode van kommunikasie met sonligflitse, en Gideon was spoedig so behendig in die stuur en lees van boodskappe, soms oor groot afstande, dat hy soveel aandag getrek het dat maj. Richard Albrecht van die Vrystaat-Artillerie vir pres. Kruger gevra het of hy Scheepers kan leen om sy jong manne op te lei.

Soos John of Johnnie (so het almal hom genoern) meer volwasse geword het en in rang bevorder is, het hy 'n taamlike groot snor gekweek wat effens vreemd gelyk het op sy mooi jong gesig. Dit was egter na die militêre tradisie, en hy was pure soldaat, hoewel ook fyngevoelig en soms emosioneel.

Hy het hegte vriendskappe gesluit, en sy makkers het hom aanbid, want hoewel streng, was hy altyd bedagsaam, getrou, vol pret en waaghalsigheid. Net voor die uitbreek van die oorlog in Oktober 1899 het hy met die oprigting van heliografiese stasies begin en hom toe by die kommando's aangesluit. Hy sou een van genl. De Wet se baasverkenners word en baie sou met hom saamwerk totdat hy met sy eie klein kommando Kaapland binnegeval het.

Scheepers se rol in Kaapland was so belangrik dat hy tot kommandant bevorder is. Hy en sy jong kerels het almal opslaanhoede met wit bande en volstruisveerpunte gedra, en hul waaghalsige ondernemings het hulle baie bekend laat raak. Gideon Scheepers het die verbeelding van alle Afrikaners en ook Engelssprekendes begin aangryp. Duisende Engelse soldate het hom agternagesit — sonder welslae. Toe word hy skielik so siek, blykbaar blindedermontsteking, dat hy sy manne verplig het om hom te verlaat en toegelaat het dat die Engelse hom vang.

Hulle het hom op Graaff-Reinet toegesluit en ná 'n verspotte verhoor deur 'n vuurpeloton laat doodskiet. Hy is op só 'n geheimsinnige wyse begrawe dat sy stoflike oorskot nooit gevind is nie.

Gideon Scheepers het 'n dagboek geskryf waarvan slegs die slotgedeelte nog gevind is. Tog is dit'n belangrike menslike dokument, en van nog groter belang is hoe sy loopbaan en tragiese einde die volk aangegryp het. Baie skrywers en digters, van Olive Schreiner tot D.J. Opperman, het in sy verhaal inspirasie geput, sodat Gideon Scheepers deel van ons kultuurbesit geword het. In 1978 is in sy eeufees-geboortejaar 'n monument tot sy eer buite Graaff-Reinet onthul.