KULTUURDAGBOEK 17 FEBRUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die Voortrekkers in Natal het in Februarie 1838 op Piet Retief se terugkeer van Dingaan of gewag. Retief het 'n ooreenkoms om grondgebied finaal gaan beklink. Maritz se mense het langs die Boesmansrivier naby die huidige Estcourt gestaan. Retief se mense was by Moordspruit, Bloukransrivier en Doornkop (vandag naby Chieveley), saamgetrek; andere by Malanspruit.
Hulle was onbewus van die moord op Retief-hulle op 6 Februarie, dog Maritz het onrustig geraak en die groepe op 'n Zoeloe-aanval probeer voorberei. Maar in die oggenddonker is die families Liebenberg, Rossouw en Bezuidenhout uitgewis.
Daniel Bezuidenhout kon gewond ontsnap en die Van Dyks, Roetse, Van Vuurens en Scheepers elders betyds waarsku. Die Greylings en Bothmas en Engelbrechts is egter almal by Moordspruit om die lewe gebring. Marthinus Oosthuizen se heldedaad het die Van Rensburgs se lewe gered. Sarel Cilliers, 'n paar Bothas en De Klerks het die Maritzlaer van groter skade en uitwissing deur die tienduisend Zoeloe-krygers gered. Vrouens en kinders het volledig teen die vyand saamgeveg. Ander het die duisternis ingevlug om die dood te ontwyk. Teen die middag het die Zoeloes as gevolg van die groter teenstand begin terugval, maar 25 000 stuks vee is met die aanval doodgemaak en geroof of het weggehardloop.
Die Groot Moord was 'n laagtepunt in die geskiedenis van die Groot Trek, en 40 mans, 56 vrouens, 185 kinders en 200 bediendes is op bloeddorstige wyse vermoor, hulle liggame is vermink en stapels goedere is verbrand. Talle heldedade is verrig, en Catherina Prinsloo, Johanna van der Merwe en Elizabeth de Beer het erename geword.