1859: STIGTING VAN GEREFORMEERDE KERK OP RUSTENBURG

KULTUURDAGBOEK 11 FEBRUARIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Oral in die Westerse Wêreld het die liberalisme en modernisme na die Franse Revolusie kerklik-godsdienstige spanninge meegebring. Vanuit die Rennaissance en Griekse filosofie het die idee van die outonome mens wat met sy rede of belewing die hoogste gesag uitoefen, die absolute gesag van die Bybel, die Gereformeerde Belydenis en kerkinrigting verwerp.

Aan die Kaap plaas De Mist (1804) en die eerste Sinode (1824) die kerkgesag in die hande van die kerkvergadering. Die nuwe lewensgevoel wat op die mens toegespits is, het naas die Psalms 'n Gesangbundel met vrye liedere in 1806 in Nederland ingevoer. Na die Engelse oorname verplig die filantrope met Ordonnansie 50 van 1828 sosiale integrasie.

In die geïsoleerde binneland het die Afrikaanse mense daagliks vir God se gesag in die Bybel, sy leiding in die natuur en hulle lewes, die Heidelbergse Kategismus en gereformeerde preekboeke uit die 17de en 18de eeu gebruik. Teen 1833 kom die eerste verset teen nuwighede in die gemeente Cradock na vore. Vanaf 1834 trek sommige van die beswaardes na die binneland. Ander weier om Gesange te sing. Hulle word veroordeel en het implisiet die Nagmaal onwaardig verklaar.

Op Colesberg is individue hieroor onder sensuur geplaas. JJ Venter, vise-president van die OVS, bedank as lidmaat van die NG Kerk en gee al sy besittings as waarborg vir die onderhoud van 'n eie predikant. 'n Blanko beroepsbrief na Nederland het geen gevolg nie.

In Transvaal erken die Uitvoerende Raad teen 1858 al 'n afsonderlike gemeente binne die Hervormde Staatskerk op Rustenburg. Kragtens die grondwet, moes die kerkvergadering bepaal of sy oortuigings met dié van die 1618/19 ooreenkom. Die vergadering het egter verder gegaan en ook die sing van Gesange verpligtend gemaak, terwyl ds D. Postma dit aan die vryheid van die predikante wou oorlaat. As gevolg daarvan het meer as 300 mense, onder wie leiers soos Paul Kruger, hulle op 11 Februarie die Gereformeerde Kerk in die Suid-Afrikaanse Republiek op Rustenburg laat inskryf.

JJ Venter het Postma na die OVS geneem om ook daar 'n kerk te stig. Eers die volgende jaar het Postma toegegee en in die Kaapkolonie drie gemeentes gestig. Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het die leer, liturgie en kerkregering van die Dordtse Sinode van 1618/19 as grondslag aanvaar.