KULTUURDAGBOEK 25 DESEMBER

KERSFEES

Die viering van Kersfees is deur die kerk ingestel in die tyd van keiser Kontstantyn (4 nC). Die datum self hou verband met die sonnewending: daar het 'n gebruik bestaan om op 25 Desember die koms van langer dae en korter nagte in die noordelike halfrond te vier. Christene het dié dag hul eie gemaak. Oosterse Christene het 6 Januarie aangeneem as feesdag vir Epifanie, of die verskyning van die Here.

Kersfees is naas Pinkster die hoogtepunt van ons Christelike kalender. Hoewel niemand weet wat Jesus Christus se werklike geboortedag is nie, het die Westerse kerk hierdie datum aangeneem as feesdag vir die viering daarvan. In die Afrikanerkultuur word dié dag gehuldig as 'n Sabbat, 'n Christusfees en 'n geleentheid vir families en vriende om bymekaar te kom en geskenke aan mekaar te bring.

'n Vrugtekoek wat aan die begin van Desember gebak en weekliks met brandewyn bedruip is, word dan bedien. Die kersete is tradisioneel 'n feesmaal wat kan bestaan uit tipies Afrikaanse kookkos soos geelrys-en-rosyne, bototie, skaapboud, braaihoender, stowevrugte en pampoenkoekies. In die warmer streke van ons land het dit egter lankal gewoonte geword om 'n verskeidenheid koue vleise en slaai voor te sit. Vir nagereg kan daar sago- of asynpoeding wees, maar deesdae is enige gereg en nagereg in die kol solank dit keurig bedien word.

Boeremense op plase het ook die gebruik om aan die plaasvolk en hulle kinders geskenke, lekkergoed, koekies en koeldrank uit te deel op Kersoggend vóór kerktyd.