1921: ALGEMENE VERKIESING

KULTUURDAGBOEK 8 FEBRUARIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Pas nadat 'n algemene verkiesing op 10 Maart 1920 gehou is, is die kiesers op hierdie datum weer na die stembus. Na 1915 was dit vir premier Louis Botha duidelik dat die politiek langs die taalgrens afgeskeur het. Hy was gevolglik verplig om die sterk Britse element van Unioniste onder Thomas Smartt by die Suid-Afrikaanse Party te betrek, ten einde polities te bly regeer.

In Augustus 1919 is hy oorlede, en genl. Smuts, wat tussen 1915 en 1919 jare lank buite die land was, moes as premier oorneem. Sy wêreldwye en veral Londense verbintenis het dit vir hom onmoontlik gemaak om met genl. Hertzog en die Nasionale Party saam te werk.

Daarom het hy liewer met die Unioniste saamgewerk. Die uitslag van 1920 het Smuts egter tot die werklikheid geskok. Die Nasionale Party het 44 teenoor die Suid-Afrikaanse Party se 41 setels verower. Die Arbeiders met hulle 21 setels het verdere onheil voorspel. Daarom het hy die steun van die Unioniste met hulle 25 setels dringend nodig gehad. Nogtans wou hy polities nie deur 'n koalisiefaktor afgepers word nie. Die gevolg was dat hy in November 1920 die Unioniste met die Suid-Afrikaanse Party laat saamsmelt het. Dit sou aan Smuts 'n sterk party en 'n sterk regering besorg.

Maar daardeur is die Afrikaner polities grootliks finaal van Smuts gespeen, want die Unioniste het op streng bande met en onderhorigheid aan Brittanje aangedring. Dit het Smuts gepas, en daarom is hy dadelik weer na die stembus om am die land, sy vyande en am die wêreld te bewys dat hy sterk staan. Sy insig was korrek en die vyftigjarige premier Smuts is met 'n groot meerderheid verkies.

Terselfdertyd het die Nasionale Party ook gevorder, en dit het die grondslag gelê om Afrikaner-politici en Engelstalige stedelike arbeidsgroepe in 'n span teen genl. Smuts te organiseer. Die vierde algemene Uniale verkiesing van 8 Februarie 1921 was dus die begin van die politieke triomf van die Hertzog-Afrikaner in 1924.