KULTUURDAGBOEK 29 JANUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
In die agterplaas van die Durban Girls' High School, in 'n opslaangebou, word 'n Engelse tak van die Natal Training College op 29 Januarie 1957 gestig. Uit die agterplaasverlede van die Durbanse Onderwyskollege, wat 'n sprokiesverlede vir die Dokkies was, het die Aspoestertjie van die Natalse Onderwys sommer onmiddellik en onbeskeie haar voet vir 'n glaspantoffeltjie uitgehou en nie gerus voordat albei voete stewig en onbeweeglik 'n vastrapplek op die Natalse bodem verkry het nie.
In 1958 is daar voorsiening gemaak vir Afrikaansmedium, en in 1959 word 'n eie, volwaardige kampus betree. Die tak was toe nie weer 'n tak nie, maar die Durbanse Onderwyskollege, wat 'n eie septer swaai en weldra uniek sou word.
In 1972 is die Engelse studente van die Durbanse Onderwyskollege na 'n eie kampus verskuif, en die Durbanse Onderwyskollege was suiwer Afrikaans en die enigste Afrikaanse tersiêre inrigting in Natal. Die Durbanse Onderwyskollege was die troetelkind van die Natalse Afrikanerkultuur, wat trots sy eie vlag gehys het en in sy eie kollegelied sy eie identiteit bevestig het.