1901: NOG BRITSE ONREG: JGW JANSEN

KULTUURDAGBOEK 4 JANUARIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op hierdie dag is Johannes Gert Wolfaardt Jansen se vrou en vier kinders na 'n konsentrasiekamp by Kimberley gebring. Hy is later gevang en weens sogenaamde diefstal van vier perde en koeëls van die Britse leër ter dood veroordeel.

Sy vrou is nooit toegelaat om hom tydens die aanhouding te besoek nie. Sy het sy doodsberig in 'n koerant gelees wat, oopgevou op die plek waar die berig geplaas is, deur 'n Britse soldaat voor haar kamptent laat val is. In die paar uur tussen vonnis en teregstelling op 11 Oktober 1901 het Jansen aan sy vrou 'n briefie geskryf, sy onskuld bely, haar iets oor hulle vee meegedeel, haar in Jesus Christus bemoedig en sy eie droefheid bevestig.

Hy is opgehang, in 1929 opgegrawe en saam met drie ander Boere wat ook destyds tereggestel is, in die konsentrasiekampkerkhof by Vryburg herbegrawe. Die ander was NC Rautenbach en die twee welgestelde broers, Johannes en Hermanus Kühn.

Die galg is destyds spesiaal gebou. Om seker te maak of hulle wel dood is, is hulle met 'n bajonet gesteek. Hulle vlak grafte is deur die medegevange burgers net buite die gevangenismuur gegrawe.

In Oktober 1977 is die historiese tronkmuur se ingangsaansig en die konsentrasiekampbegraafplaas deur die Vryburgse Afrikaanse Kultuurraad ná opknapping tydens 'n herdenkingsfees as gedenkwaardighede toegewy.