Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons sien oral om ons hoe mens onder die spreekwoordelike broodlyn leef; vroeër jare het ons feitlik nooit 'n blanke bedelaar gesien nie, vandag het elke straathoek een of meer. En ons gee dikwels 'n geldjie of iets anders om hulle te help, maar dink ons ooit aan hulle geestelike broodlyn, daardie groter behoefte wat dikwels nie raakgesien word nie? Gebruik die geleentheid om met hierdie mense oor hulle emosionele en geestelike welstand te praat en u sal verbaas wees hoe groot behoefte hulle daaraan openbaar!
1914: JOPIE FOURIE TEREGGESTEL
KULTUURDAGBOEK 20 DESEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Gebore op 27 Augustus 1878 op die familieplaas Wildebeesthoek, distrik Pretoria, het Joseph Johannes (Jopie) Fourie, nadat hy in verskeie skole in Pretoria was, aan die Greykollege, Bloemfontein, studeer. Hy onderbreek sy studie om aan die gevangeneming van Jameson by Doornkop deel te neem en studeer daarna by die Victoria-kollege op Stellenbosch, om uiteindelik tot die kantoor van die Ouditeur-generaal van die ZAR toe te tree.
In die Engelse Oorlog onderskei hy hom as 'n bekwame rapportryer en onverskrokke vegter. Nooit het hy teruggedeins om die gevaarlikste take te onderneem nie. Hy word sodanig verwond dat hy aan die een kant van sy hoof sy sig en gehoor verloor.
Ná die oorlog lê hy hom toe op die boerdery op die familieplaas en is hy 'n troue ondersteuner van genl Botha en sy Het Volk Party.
Genl Beyers wou hom oorhaal om by die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag in 1912 aan te sluit maar dit loop slegs uit op 'n kapteinskap in die Burgermag.
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het hy bedenkinge oor Botha se besluit om Duits-Suidwes-Afrika aan te val maar sy aktiewe inskakeling by die protesterendes word veroorsaak deur die optrede van Engelssprekende gepeupel op die Krugerdagverrigtinge in Pretoria, waarby genl Beyers verhinder is om as spreker op te tree.
Teen die einde van Oktober 1914 bevind hy hom gewapend in die veld onder bevel van genl JJ Pienaar. Ná verskeie skermutselinge waarin die regeringstroepe swaar verliese ly, is hy op 16 Desember saam met sy jonger broer en verskeie ander by Nooitgedacht in die Rustenburg-distrik, deur 'n oormag gevange geneem.
Klaarblyklik om van hulle 'n voorbeeld te maak, is 'n krygsraad op 'n oorhaastige wyse saamgestel en is Jopie en sy broer van hoogverraad aangekla omdat hulle nie as lede van die Burgermag bedank het voordat hulle die wapens opgeneem het nie. Sy broer Hannes is tot vyf jaar harde-arbeid gevonnis, terwyl Jopie die doodvonnis opgelê is.
Pogings van dr DF Malan, ds CA Neethling en ander om genl JC Smuts, Minister van Verdediging, op te spoor om Jopie se vonnis te versag, het misluk aangesien Smuts sy beste gedoen het om onbereikbaar te bly – vandaar die bewys van sy betrokkenheid by hierdie vonnis.
Vroeg die Sondagoggend van 20 Desember 1914 is Jopie deur 'n vuurpeleton gefusilleer. Hartroerende briewe wat kort voor sy dood in die tronk geskryf is, onder meer aan sy volk, eggenote, advokaat, prokureur en aan genl Louis Botha, is mettertyd by honderdtalle afgeskryf en onder Afrikaners versprei. Die oorhaastige verhoor en voltrekking van sy vonnis sou die Afrikanervolk diep skok, en die verontwaardiging teen dié optrede sou tot die snelle opbloei van die Nasionale Party lei.
Dekades lank sou dit heeltemal tereg teen genl Smuts se hoof geslinger word dat hy vir die dood van Jopie verantwoordelik gehou moet word.
Jopie se oorskot is verskeie kere herbegrawe maar tans rus dit in die Ou Kerkhof in Pretoria. Op sy grafsteen pryk die woorde: "Getrou tot die dood. Geoffer vir Volk en Vaderland."