1912: DE WILDT- TOESPRAAK – GENL JBM HERTZOG

KULTUURDAGBOEK 7 DESEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op hierdie dag het genl JBM Hertzog sy bekende toespraak by die stasie De Wildt in Transvaal gehou op 'n politieke vergadering wat sowat 100 mense bygewoon het. Die toespraak het gedagterigtinge tussen Suid-Afrikaanse nasionalisme en Britse imperialisme, wat reeds in genl Louis Botha se Suid-Afrikaanse Party en Kabinet sigbaar was, tot  'n punt gebring.

Genl Hertzog het sy toespraak in Nederlands gelewer, en die hoofpunte daarvan was:

  • Wanneer 'n mens oor landsake praat moet die vraag te alle tye gestel word of Suid-Afrika daarby baat vind.
  • Suid-Afrika moet deur die Afrikaner geregeer word. Die tyd het aangebreek om Suid-Afrika nie langer deur nie-Afrikaners te laat regeer nie, mense wat geen ware liefde die land het nie.
  • Die leier van die opposisie, 'sir' Thomas Smartt van die Unionisteparty, het gesê hy is eers imperialis en Afrikaner. "Imperialisme is voor mij net goed zover't dienstig is voor Zuid-Afrika. Waar't in botsing komt met de belagen van ZA, ben ik er 'n besliste tegenstander van. Ik ben bereid mij toekomstige loopbaan als politikus te laten afhangen van deze leer," was genl Hertzog se woorde.
  • Hy sê voorts dat hy nie een van diegene is wat altyd oor konsiliasie en lojaliteit praat nie want dit is ydele woorde wat niemand bedrieg nie.
  • Ook het hy gesê dat die vlag (Britse Union Jack) daar is en dat dit maar kan bly. "Ik heb mij onderworpen en wie mij niet loyaal noemt, voor hem heb ik geen tijd."
  • Genl Hertzog het in dieselfde toespraak as Minister van Naturellesake ook daaroor gepraat.
  • Sy uitlatings oor trou aan Suid-Afrika bokant trou aan die Ryksgedagte, het die wekroep laat ontstaan van 'Suid-Afrika eerste!' – 'n slagspreuk wat eers na die sogenaamde 'Mishoop'-vergadering vir die eerste keer deur genl Hertzog uitgespreek is.