1926: BALFOUR- VERSLAG AANVAAR

KULTUURDAGBOEK 19 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die aanvaarding van die Balfourverslag deur die Britse Rykskonferensie van 1926 is 'n reusebaken in die staats- en volkeregtelike onafhanklikwording van Suid-Afrika. Die argitek was genl JBM Hertzog, wat as Premier na Londen gegaan het met die doel om enige sprake van Suid-Afrika se onderhorigheid aan Brittanje uit die weg geruim te kry.

Nadat hy die saak aangeroer het, is dit na 'n komitee verwys wat op 27 Oktober onder voorsitterskap van lord Balfour met sy werk begin het. Hertzog se pleidooi om die uitreik van 'n gesaghebbende verklaring oor die vryheid en onafhanklikheid van die Britse Dominiums is dadelik teengestaan. LS Amery, Britse minister van dominiale sake, was van oordeel dat die Rykskonferensie nie bevoeg was om 'n "deklarasie van regte" uit te reik nie.

Hy het ten opsigte van die verhouding van Brittanje en die Dominiums aangedring op die erkenning van 'n "gemeenskaplike burgerskap van die Britse Ryk" en wedersydse pligte teenoor en steun aan mekaar.  Hiervan wou genl Hertzog niks weet nie en Kanada en Ierland het hom algaande gesteun.

Sowel Balfour as Amery wou die woord "Ryk" (Empire) in enige statusomskrywing van die Dominiums hê, maar met die steun van lord Birkenhead, Britse minister vir Indië, is die woord "Gemenebes" (Commonwealth) aanvaar en die posisie en status van die Dominiums is só omskryf: "Hulle is outonome gemeenskappe binne die Britse ryk,gelyk in status, op generlei wyse in enige aspek van hul binne- of buitelandse sake die een ondergeskik aan die ander nie, hoewel verbonde deur hul gemeenskaplike trou aan die Kroon en vryelik verenig as lede van die Britse Gemenebes van Nasies."

Hierdie statusformule is op 19 November eenparig deur die Rykskonferensie aanvaar, en dit was, in die woorde van dr DF Malan (teenoor Die Burger, koerant van 24 November 1926) "verreweg die belangrikste politieke gebeurtenis in die wordingsgeskiedenis van die Suid-Afrikaanse nasie."