1497: DA GAMA SEIL OM KAAP

KULTUURDAGBOEK 18 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Manoël I, Koning van Portugal, het Vasco da Gama aangestel as die opperbevelhebber van die ekspedisie wat Dias se werk moes voltooi, naamlik die ontdekking van die seeroete na Indië.

Die eskader van vier skepe het in Julie 1497 uit Portugal vertrek, op 18 November is Tafelberg gewaar, en in Mei 1498 het hulle Kalikoet aan die Malbarkus van Indië bereik.

Na baie wedervaringe word Da Gama teen die einde van Augustus 1499 as held in Lissabon terugverwelkom. Vanweë hierdie epiese ontdekkingsvaart is die Islamitiese monopolie van die speseryhandel van die Ooste verbreek. Vir die Portugese vorstehuis het dit groter rykdom en mag beteken, en dit sou ook aanleiding gee tot Europese oorheersing in die Ooste.

Die swaartepunt van die speseryhandel was nou verlê, van Egipte en Venisië na die Atlantiese kus van Wes-Europa.  Die suidpunt van Afrika sou ook nou verder aan die beskaafde wêreld bekend gestel word, en Europese nedersettings sou weldra langs die ooskus van Afrika gevestig word. Daarby was Da Gama se eerste oorvaart van die Atlantiese Oseaan (eers na 93 dae is land gesien) 'n buitengwone tegniese prestasie.

Da Gama was ook verantwoordelik vir die naamgewing van St Helenabaai en van Natal. En van sy ekspedisielede doen die eerste volledige waarneming van Suid-Afrika se inheemse inwoners.