1880: BEZUIDENHOUT SE WA OPGEVEIL

KULTUURDAGBOEK 11 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

In die geskiedenis van die mensdom het dit dikwels gebeur dat 'n geringe insident as vonk gedien het om die oorlogskruit te laat ontplof. So 'n insident het op hierdie dag in Potchefstroom plaasgevind, wat uiteindelik aanleiding tot die Transvaalse Vryheidsoorlog van 1880 tot 1881 gegee het.

Die burgers van Potchefstroom en omgewing het beswaard gevoel oor die belasting wat hulle aan die Britse gesag moes betaal. Op 7 Oktober 1880 het genl PA Cronjé en 130 burgers van die Schoonspruit-omgewing by die landdros op Potchefstroom beswaar aangeteken oor die belasting en onder meer verklaar dat hulle bereid is om aan hulle wettige regering belasting te betaal, maar dat die Britse regering "op een onwettige wijze" en teen hulle wil, hulle land geannekseer het en derhalwe weier hulle om belasting te betaal. Hulle het dit ook duidelik gemaak dat hulle alleen voor oorweldigende geweld buig.

Een van die manne wat geweier het om belasting te betaal was Piet Bezuidenhout. As gevolg daarvan is daar deur die balju op sy wa beslag gelê met die doel om dit op te veil ten einde die belasting te verhaal. Dit het op hierdie dag plaasgevind. Onder aanvoering van genl Cronjé het ongeveer 200 gewapende burgers die vendusie tot niet verklaar, die afslaer van die wa afgegooi en dit aan Bezuidenhout teruggegee, wie dit terstond teruggeneem het na sy plaas.

Sir O Lanyon het besef dat daar nou op 'n krisis afgestuur word en het 'n afdeling soldate met kanonne na Potchefstroom gestuur. Ook die Boereleiers het besef dat verdere stappe nodig is en 'n volksbyeenkoms is op 8 Desember 1880 by Paardekraal gereël... en weldra sou Boer en Brit na 32 jaar weer die wapen teen mekaar opneem.