1901: 'NATIONAL SCOUTS CORPS' SKANDNAAM IN VOLKSMOND

KULTUURDAGBOEK 7 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Aanvanklik het die Britse militêre owerheid Boere wat in die Tweede Vryheidsoorlog oorgegee het, as spioene en verkenners gebruik maar dan op 'n nie-amptelike basis. Die geringe uitwerking van die Britse proklamasie van 7 Augustus 1901, waarvolgens burgers wat ná 15 September nog met die stryd voortgegaan het, vir altyd uit die land verban sou word of al hulle eiendom sou verloor, het die Britse owerheid egter laat besluit om voortaan meer georganiseerd van hierdie mense wat so moeg vir oorlog was, gebruik te maak.

Invloedryke Boere wat reeds die eed van trou aan die Britse kroon afgelê het soos onder andere generaals APJ Cronjé en Piet de Wet, het in Desember 1900 die sogenaamde Burgervredeskomitees gestig omdat hulle die guerilla-oorlogvoering as sinloos en selfvernietigend beskou het.

Aanvanklik was hulle redelik passief, maar teen September 1901 het hulle aangebied om aan Britse kant te veg en burgers wat hulle reeds oorgegee het vir dieselfde doel in eenhede te organiseer. Lord Kitchener het die plan verwelkom en onmiddellik reëlings getref vir die stigting van die 'National Scouts' in Transvaal en later ook die 'Orange River Colony Volunteers' in die Oranje-Vrystaat.

Hoewel die 'National Scouts' eintlik op inisiatief van genl APJ Cronjé. 'n voormalige aanvoerder van die Potchefstroomse kommando en broer van genl PA Cronjé, gestig is, het dit onder direkte beheer van die Britse militêre owerheid gestaan. Die 'Scouts' is in verskeie afdelings, bestaande uit tussen 50 en 150 man, georganiseer met een of twee Britse offisiere in bevel wat dan bygestaan is deur 'n aantal Boere-offisiere.

Van elke burger wat 'n lid van die 'Scouts' geword het, is verwag om 'n kontrak te teken waarvolgens hy onderneem om vir ses maande diens te doen. Die aanvanklike vergoeding sou bestaan uit oorlogsbuit, aangevul deur geskenke van die Britse hoofkwartier vir buitengewone diense gelewer.

Teen die einde van 1901 is 'n vasgestelde vergoedingskaal ingestel wat gewissel het van 5 sjielings per dag vir 'n gewone burger tot 15 sjielings per dag vir 'n offisier. Die uitdeel van geskenke het steeds voorgeduur. Nie-amptelik is ook aan die 'Scouts' beloof dat hulle ná die beëindiging van die oorlog voorkeurbehandeling sou ontvang. Die verskil tussen die oorlopers en die onversoenlikes is dan ook by elke moontlike geleentheid sterk benadruk. In die Konsentrasiekampe, wat die vernaamste werwingsplekke vir 'National Scouts' was, het die 'Scouts' se familielede ook voorkeurbehandeling geniet.

In Februarie 1902 was daar reeds 1 000 'National Scouts' in die veld, en teen die einde van die oorlog 1 480. Die 'Orange River Colony Voluteers' was nooit meer as 480 man sterk nie. Die oorlopers was nooit juis wafferse vegters nie maar hulle waarde was daarin geleë dat hulle die land goed geken het en dus waardevolle diens kon lewer as patrolliegidse, verkenners en spioene. Daarbenewens het hulle die Britse magte se beleid van 'verskroeide aarde' help uitvoer deur Boereplase te plunder en af te brand. Die invloed van hul laakbare optrede op die moreel van hulle vroeëre strydmakkers is moeilik te bepaal maar dit het waarskynlik baie van die nog vegtendes uiteindelik bittereinders gemaak, terwyl ander as gevolg daarvan besluit het om as krygsgevangenes die wapen neer te lê.

Na die Vrede van Vereeniging was die 'National Scouts' in 'n onbenydenswaardige posisie. Die bittereinders het hulle verafsku, en in die Konsentrasiekampe is daar selfs spesiale voorsorgmaatreëls getref om gewelddadige optrede tussen die twee groepe te voorkom maar dat slegs enkele voorvalle wel voorgekom het getuig van die afwesigheid aan wraaksug onder die Afrikaners. Helaas, vir die Britse militêre owerheid was die 'National Scouts' maar net tydelike hulptroepe wat hulle nou nie meer nodig gehad het nie en vir die Britse regering was hulle maar net nog 'n groep Boere was gerepatrieer moes word. Hulle enigste kampvegter was maj EHM Leggett, deur wie se toedoen hulle tog spesiale behandeling in die periode van repatriasie ontvang het. Beledigings en kerklike sensuur het nie uitgebly nie, en baie Afrikaanse predikante het daarop aangedring dat die 'National Scouts' in die openbaar hulle skuld moes bely. Dit het die sogenaamde 'Scout'-kerke tot gevolg gehad maar geleidelik het die kerksensuur verslap en het vereniging plaasgevind.

In 1904 het die Boereleier genl Louis Botha met 'n beleid van rekonsiliasie begin, en met die Uniewording in 1910 was die 'National Scouts' weer in die gemeenskap opgeneem, maar in die volksmond het hierdie naam 'n skandnaam gebly.