1900: SLAG BY BOTHAVILLE – BOER SWAK VERTOON

KULTUURDAGBOEK 6 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Genl Christiaan de Wet het teen hierdie tyd van die oorlog met sy besondere en suksesvolle wyse van oorlogvoering by die Engelse magte 'n onuitwisbare begeerte laat ontstaan om die vermaarde generaal vas te keer. In die laaste drie maande van die jaar 1900 het hulle twee keer byna daarin geslaag en het genl De Wet ernstige teenslae gely.

Aan die begin van Oktober het genl De Wet se kommando Frederickstadstasie beset en genl Barton vyf dae daar vasgekeer. Vanweë ernstige versuim van die kant van sommige offisiere het Engelse versterkings hulle ongesiens bereik en moes die burgers terugtrek met 'n lewensverlies van 30. Van daar het hulle na Bothaville beweeg. Langs die pad het pres MT Steyn, op weg terug van Transvaal, hom by hulle aangesluit.

Op 5 November het hulle Bothaville bereik, voor die aanrukkende Engelse kolonnes.

Brandwagte is uitgestuur maar hulle het gerapporteer dat hulle geen vyand gewaar het nie. Die boodskap pas afgelewer, vuur die Engelse kolonnes onder aanvoering van kol Le Gallais van ongeveer 200 tree op hulle. Genl De Wet verhaal self in sy boek, 'Die stryd tussen Boer en Brit': "Wat daarop gevolg het, het ek nog nooit tevore gesien nie. Ek het baie van verskrikking gehoor, maar nou eers gesien wat dit is. Ek moes self maar rondsoek waar my perd is om dit op te saal. Intussen het 'n paar burgers geveg maar almal wat opgesaal het, het so hard moontlik weggejaag."

Ondanks uitdruklike bevele om te veg het die burgers verkies om weg te jaag. Nege het in die slag gesterf, ongeveer 30 is gewond en ongeveer 100, onder wie staatsprokureur Jacob de Villiers, is gevange geneem. Ses Krupp-kanonne het ook in die slag gebly. Na die slag het genl De Wet verklaar dat, as die burgers geveg het, sou "ons hulle kon teruggedryf het en die onheil nie plaasgevind het nie. Ons was agthonderdman sterk en hulle nie meer as twaalfhonderd nie...!"