1940: HNP IN VRYSTAAT GESTIG

KULTUURDAGBOEK 6 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op hierdie dag het Vrystaatse verteenwoordigers van dr DF Malan se Nasionale Party en ondersteuners van genl JBM Hertzog, wat by die oorlogverklaring van September 1939 van die Verenigde Party afgeskei het, in 'n kongres in Bloemfontein vergader om die Herenigde Nasionale Party of Volksparty te stig (die woord 'hereniging' hier dui op die byeenkom van Nasionaliste wie se paaie by Samesmelting in 1934 geskei het toe die Nasionale Party onder leiding van dr DF Malan voortgesit is, maar die grootste deel daarvan in die toé gestigte Verenigde Party opgegaan het.)

Onderhandelinge vir die hereniging is onmiddellik na September begin, en dr Malan het aangekondig dat hy genl Hertzog as leier van die nuwe party sou aanvaar.

Verskillende stappe is gedoen om die party te vorm: 'n herenigingskonferensie, 'n ooreenkoms vir parlementêre samewerking, 'n voorlopige federale raad, die opstel van 'n ontwerpprogram van beginsels en van aksie, die hou van kongresse om die weg te baan vir die stigting van die nuwe party in elke provinsie, steeds op federale grondslag soos die Nasionale Party.

Die voorlopige federale raad het op 15 en 16 Oktober 1940 in Pretoria vergader en die ontwerpprogramme goedgekeur. Dié byeenkoms is egter nie deur die Herzoggroep in die Vrystaat bygewoon nie, en dit het geblyk dat genl Hertzog sy eie program van beginsels opgestel het vir voorlegging aan die Vrystaatse stigtingskongres van die nuwe party.

Die Vrystaatse besture van die twee groepe het op 5 November in Bloemfontein saamgekom om eensgesindheid oor die voorgestelde programme te probeer verkry, maar sonder welslae. Toe die kongres op hierdie dag vergader het genl Hertzog voorgestel dat sy program as grondslag van bespreking geneem word, maar die kongres het hierdie voorstel verwerp en die voorlopige federale raad se program aanvaar. Hierop het genl Hertzog die kongres verlaat en nie verder aan die stigting van die nuwe party deelgeneem nie.

Die stigtingskongresse in ander provinsies het glad verloop. Hertzog-volgelinge wat nie in die nuwe party opgegaan het nie, het later die Afrikanerparty gestig, welke party in 1951 met die Herenigde Nasionale Party of Volksparty saamgesmelt het, en toe is die ou naam Nasionale Party herstel.