1824: 1e SINODE IN KAAP

KULTUURDAGBOEK 2 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

In 1806 is die politieke bande tussen Nederland en die Kaap beëindig. Hierdie gebeurtenis het 'n diepgaande invloed op die Kaapse Nederduits Gereformeerde Kerk uitgeoefen, want benewens die opleiding en verkryging van predikante uit Nederland, het die Kaapse Kerk onder die toesig van die klassis van Amsterdam gestaan.

Die angliseringsbeleid van die Britse owerheid het die posisie van die Kerk verder beïnvloed. Die toestand kon nie voortduur nie, en dit was met die oog op die beëindiging daarvan dat die drie leraars van die gemeente Kaapstad op 19 Junie 1824 by lord Charles Somerset, op grond van artikel 46 van JA de Mist se Kerkorde van 1804, aansoek gedoen het om "eene Synode bijeen te roepen van alle de Leeraars der Hollandsche Gereformeerde Kerk".

In hulle versoekskrif aan Somerset beklemtoon hulle die feit dat die Kerk voor die oorname van die Kaap onder die toesig van die Amsterdamse klassis gestaan het, maar sedertdien aan hulleself oorgelaat is.

Toestemming is verleen, en op 2 November 1824 het die eerste Sinode vergader. Dit was 'n byeenkoms van openbare belang, en die pers het dit omvattend met beriggewing gedek. Twaalf van die veertien gemeentes was teenwoordig. Die oudste leraar, ds Meent Borcherds, toe reeds 40 jaar in sy amp, het die openingsrede gehou na aanleiding van Handelinge 26:22. Dit was die keerpunt in die geskiedenis van die Kerk en volk.Die rede vir die praeses, voorsitter of moderator, dui daarop. Hy het sy verkiesing aanvaar as "inboorling van dit land" en onderneem om die "beraadslagingen te lei belangens van de Gods Kerk in deze Volksplanting".

Een van die eerste take van die Sinode was om die Kerk behoorlik te organiseer en ondanks die feit dat selfs die kerklike bande met Nederland verbreek was, wou hulle hul so nou moontlik aansluit by die wyse waarop die Kerk in Nederland georganiseer is. De Mist se Kerkorde, wat buite die Kerk opgestel is en nie getrou was aan Skriftuurlike uitgangspunt nie, het die taak van die Sinode bemoeilik.

Die Kerk sou hom egter nie van sy Gereformeerde kerkreg en die Kerkorde van Dordt (1618/19) laat vervreem nie. In sy onderlinge oorlegpleging het hy al meer en meer sy bestaansreg opgeëis, sy orde na die Skrif verantwoord en hom geïdentifiseer met die land en die lidmate wat hy bedien.

'n Knellende staatsbeheer moes afgeskud word, 'n selfbegrip aangewend word en 'n bediening eie aan Suid-Afrika gekweek word.