1517: HERVORMINGS- DAG

KULTUURDAGBOEK 31 OKTOBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Hierdie dag word in die Protestantse Kerke as die begin van die Kerkhervorming beskou, en jaarliks word dit op die Sondag die naaste daaraan herdenk. Die datum is dié waarop Martin Luther 95 stellinge aan die deur van die slotkerk in Wittenberg aangebring het.

Die inhoud van die stellinge het gehandel oor die verwerplikheid van die aflaathandel en die aard van die ware boetedoening. Luther se daad het heelwat opsien verwek en uit verskeie oorde steun ontvang. Die Pous was verplig om te reageer, en toe Luther weier om sy stellinge terug te trek tensy met bewyse uit die Skrif aangetoon kan word dat hy verkeerd is, is hy in die ban gedoen.

In 1521 is hy voor die Ryksdag in Worms gedaag waar sy saak ondersoek is. Toe hy weer weier om sy geskrifte terug te trek is hy tot ketter verklaar en is die ryksban op hom toegepas. In Wartburg by Eisenach het hy skuiling gevind en daar die Bybel in Hoogduits vertaal. Toe hy in 1546 sterf was die Hervorming in Duitsland in volle gang.

Ongeveer dieselfde tyd het kerkleiers in Switserland teen misbruike in die Kerk gereageer. Hier moet veral die naam van Johannes Calvyn genoem word. Daar het mettertyd verskille tussen Protestantse teoloë ontstaan, veral oor die Sakramente. Daardeur het verskillende kerke ontstaan, hoofsaaklik dié met Lutherse en dié met Gereformeerde leertipes.

Die Kerkhervorming het ook na lande soos Engeland, Skotland, Frankryk en Nederland uitgebrei. Die Gereformeerde leer het sy stempel op die Protestanse Kerke in Nederland afgedruk omdat die geloofsbelydenis opgestel is deur persone wat kwekelinge van Calvyn was. By die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618 tot 1619) is die belydenisskrifte aan die Skrif getoets en finaal goedgekeur. Ook Frankryk het die Gereformeerde belydenis ingang gevind.

Die Gereformeerde belydenis is saam met Van Riebeeck en die eerste nedersetters na die Kaap gebring en is in 1688 versterk met die aankoms van die eerste Hugenote wat op verskeie gebiede 'n groot invloed op die Afrikanergemeenskap uitgeoefen het.

Hoewel daar godsdiensvryheid in ons land bestaan het, het die Kerkhervorming, en by name die Gereformeerde leertipe, so 'n groot rol in die godsdienstige lewe van die Afrikaner gespeel dat die belydenis van die oorgrote meerderheid daardeur gevorm en hul optrede in baie opsigte daardeur bepaal is.