1937: AFRIKAANSE RADIODIENS BEGIN

KULTUURDAGBOEK 27 OKTOBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Enkele brokkies Afrikaans is vir die eerste keer in 1924 oor die radio gehoor. In daardie jaar het die radio in Suid-Afrika as drie afsonderlike private ondernemings in Johannesburg. Kaapstad en Durban begin. Die uitsendingsterkte van hierdie drie streekstasietjies was uiters beperk, en die Afrikaanse bydraes sporadies en heel gering.

In 1927 het die regering 'n konsessie aan die Schlesinger-organisasie toegeken om die uitsaaiwese in die land te beheer en is die African Broadcasting Company gestig. Daar het nog 'n paar senders bygekom maar die uitsendings was steeds op 'n streekbasis.

Afrikaans het op sy beste in een streek slegs 45 minute per week vir programme gehad. Hierbenewens was daar ook enkele praatjies en nuusbulletins.

Op 1 Augustus 1936 is die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie by wyse van Parlementêre Statuut ingestel met die opdrag om uitsendings te voer met inagneming van die belange van die Afrikaanse, Engelse en swart taalgroepe van die land.

 Aan die begin is hoofsaaklik in Engels uitgesaai maar op 27 Oktober is die Afrikaanse Diens van die SAUK ingestel.

In 1938 is 'n besluit geneem wat die Afrikaanse Diens in 'n besondere sin tot die hart van sy mense laat spreek het. Daar is naamlik beplan om die eerste paar skofte van die Simboliese Ossewatrek uit te saai. Ten spyte daarvan dat die uitsendings oor tegnies swak telefoonlyne plaasgevind het, was die reaksie van luisteraars so oorweldigend dat besluit is om die hele trek uit te saai. Die volgehoue reaksie op die uitsendings het die behoefte van die Afrikaanse luisteraar onderstreep om meer in sy eie taal te verneem van wat sy eie is.

En toe kom die Tweede Wêreldoorlog. Die radio en ook die Afrikaanse Diens is deur die regering van die dag bygehaal om 'n rol in die oorlogspoging te speel. In die jare veertig en ook die begin jare vyftig het die Afrikaanse Diens die taak gehad om die kruitdampe van die oorlog wat tussen baie Afrikaanse luisteraars en hulle radio ingeskuif en lank in die eter bly hang het, in die niet te laat verdwyn. 'n Resep moes gevind word wat die Afrikaanse Diens weer tot die hele volk sou laat spreek. Eintlik kan die basiese resep in een volsin saamgevat word: die volk self, sy geloof, die seggingskrag van sy taal, sy musiek, sy letterkunde, sy humor, sy sport, sy geskiedenis, is soos nog nooit tevore nie ingespan om die vroeëre glorie te laat herleef en selfs te oortref.

Wat die gelykberegtiging van die Afrikaanse Diens betref, was die uitsendingsterkte van die Afrikaanse Diens in 1946, tien jaar na die totstandkoming van die SAUK, nog in daardie stadium 11 kilowatt teenoor die 33 van die Engelse Diens. Met beslistheid en toewyding is hierdie dinge geleidelik reggestel. Met die uitbouing van die Afrikaanse Diens tot 'n volwaardige diens naas die Engelse Diens, is 'n bydrae gelewer tot die uitbouing en verryking van die Afrikaanse kultuur op 'n wyse wat ons selfs vandag nog nie volledig en reg kan beoordeel nie.

Afrikaans het radiotaal geword soos dit later in 1975 ook televisietaal geword het voordat die ANC in 1994 gesorg het dat Afrikaanse televisiekanale eers verdwyn, en toe die latere KykNet-kanaal infaseer het om 'n nog groter bespotting van die Afrikaner te probeer maak.

Die radio het veral die Afrikaanse letterkunde verryk met nuwe kunsvorme – ons dink hier veral aan die hoorspel en die hoorbeeld. 'n Groot verskeidenheid van radiorubrieke het tot stand gekom waarin die Afrikaanse kultuurproduk bespreek en oor die eter bekend gestel is. Ook die vertaalkuns, vertalings van klassieke en hoogstaande kunswerke is bevorder en tot verryking van die Afrikaanse kultuurlewe aangebied.

En wat die Afrikaanse taalgebruik betref, het die SAUK altyd daarop aangedring dat hierdie taalgebruik suiwer, tekenend en nuut moet wees, en dat dit presies sal sê wat die spreker bedoel. Nuwe woorde, radio- en televisiewoorde by die honderde, het die Afrikaanse taalbesit uitgebrei en verryk. 'n Spesiale deskundige komitee vir taaladvies het 'n wakende oog oor ons Afrikaanse radio- en televisietaal gehou. As daar maar nog so 'n komitee in aksie was sou ons nie die afstootlike geradbraak heeldag en aldag oor radio en televisie gehoor wat vandag aan die orde van elke dag is nie, maar die kommunistiese owerheid het geweet hoe om die Afrikaner te vernietig: begin by sy taal en kultuur, verkleineer dit, vermeng dit en siedaar: geen identiteit, na 'n tydjie geen volk meer nie want geen volk kan bestaan sonder 'n eie taal nie.