1687: EERSTE KERKGEBOU TE STELLENBOSCH INGEWY

Lees volledig by Kultuurdagboek

KULTUURDAGBOEK 18 OKTOBER

As stigter van die dorp Stellenbosch het goew Simon van der Stel 'n besondere belangstelling in sy "Kolonie" geopenbaar. Ooreenkomstig die beleid van die VOC, besluit hy om 'n kerkgebou en drosdy hier te laat oprig. Hy het ywerig reëlings getref vir die bouery en persoonlik die vordering dopgehou.

Dit is belangrik om te onthou dat hierdie kerkie die eerste volwaardige kerkgebou in Suid-Afrika was – 'n sigbare teken van die Calvinistiese godsdiens wat uit Nederland aan die Kaap oorgeplant is.

Op Van der Stel se uitdruklike wens is 'n klein kloktorinkie op die nok van die dak aangebring, duidelik sigbaar op 'n tekening van Stellenbosch deur Stade uit die jaar 1710.

Die inwyding van die kerkgebou het onder groot belangstelling met Simon van der Stel se tradisionele verjaarsdagbesoek aan Stellenbosch van 13 to 20 Oktober 1687 plaasgevind. Die diens is gehou deur ds Johannes van Andel. Sy tekvers was die bekende seënbede uit Numeri 6:23 tot 27:"De Heere Zegene u, ende behoede u ..."