1818: MARTHINUS OOSTHUIZEN, VOORTREKKER- HELD

Lees volledig by Kultuurdagboek

KULTUURDAGBOEK 14 OKTOBER

Min van ons hedendaagse jeug dra kennis van die dapper daad van Marthinus Jacobus Oosthuizen, 'n Voortrekkerheld wat met 'n voorraad ammunisie deur 'n Zoeloe-hinderlaag gebreek het om klomp Voortrekkerfamilies te red. Hy is op hierdie dag op Olifantshoek aan die Boesmansrivier, Uitenhage, gebore, en ons vertel graag van sy heldedaad.

In April 1837 het hy as seun van die Voortrekker Marthinus Oosthuizen sr, met Pieter Retief na Natal getrek en by Doornkop, naby die latere Chieveley, uitgespan. Marthinus sr is saam met Retief en die ander onderhandelaars na Dingaan waar hulle op 6 Februarie 1838 by Mgungundlovu wreedaardig deur die Zoeloes vermoor is.

Toe die Zoeloes hierna die Voortrekkerlaers aan die Moordspruit, Bloukransrivier en Rensburgspruit in die nag van 17 Februarie aanval, het die 19-jarige Marhinus hom na die toneel gehaas. Ongeveer agt to tien Van Rensburg- en Botha-families (onder wie slegs 14 weerbare mans) was op 'n heuwel vasgekeer en omsingel deur 'n Zoeloe-regiment. Toe Marthinus die groep nader, het Johannes van Rensburg sy geweer onderstebo aan die seun getoon, wat dadelik begryp het dat hulle voorraad ammunisie uitgeput was. Marthinus het al vegtend teruggeval en ammunisie gaan haal by die wa van 'n Pretorius-familie ongeveer 1,6km daarvandaan.

Gesteun deur Abraham de Beer en Jacob Naudé, het hy sy pad terug oopgeveg na die vasgekeerde Voortrekkers, waarhy die kosbare vrag afgelewer het. Sy tydige hulp het hulle lewens gered.

Later het nog Voortrekkers onder Sarel Cilliers opgedaag en is die aanvallers verdryf.

Na sy huwelik het Marthinus hom in Natal gevestig. Hy is op 2 April in die distrik Estcourt op die plaas Enon oorlede.