1908: UNIFIKASIE- KONGRES IN DURBAN

Lees volledig by Kultuurdagboek

KULTUURDAGBOEK 12 OKTOBER

Op hierdie dag, presies nege jaar nadat die eerste skoot tussen Boer en Brit in die Tweede Vryheidsoorlog geval het, het afgevaardigdes van die vier Britse kolonies in Suid-Afrika en van Rhodesiƫ in Durban vergader om politieke eenwording te bespreek.

Dit was die eerste sitting van die Nasionale Konvensie wat onder voorsitterskap van sir Henry de Villiers tot 5 November byeen was in wat later die Durbanse poskantoor geword het.

Latere sittings sou in Kaapstad en Bloemfontein volg. Die beraadslaginge het gespruit uit 'n begeerte tot 'n eenvormige spoorweg- en doeanebeleid en uit die noodsaak om eenvormig teenoor die swartes op te tree.

Boer en Brit se politieke oogmerke het egter verskil. Terwyl die Engelse die begrip politieke eenheid as 'n versterking van Brits-imperiale belange gesien het, het die Afrikaners dit as geleentheid gesien om hul nuut ontdekte politieke krag te toets. Hierin was die kiem geleƫ van 'n stryd tussen Afrikanernasionalisme en Britse Imperialisme wat hom eers 'n halfeeu later wou uitwoed.