1939: AANVANG VAN EKONOMIESE VOLKSKONGRES

Lees volledig by Kultuurdagboek

KULTUURDAGBOEK 3 OKTOBER

Een van die eerste en dringendste vraagstukke waarmee die FAK sedert sy stigting gekonfronteer is, was die betreurenswaardige ekonomiese toestand waarin die Afrikanervolk sedert die vroegste depressietyd verkeer het. Weer kan ons 'n regverdigbare vergelyking maak tussen ons huidige haglike ekonomiese situasie en 1939. Net soos nou was in daardie jare die ekonomiese opheffing van die Afirkaner nie slegs van wesenlike politieke belang nie maar het ook direk met armblanke-vraagstukke verband gehou.

In opdrag van die Nasionale Kultuurraad van die FAK tydens sy tweede vergadering in Julie 1938, het die FAK 'n Ekonomiese Volkskongres – later bekend as die Eerste Ekonomiese Volkskongres – van 3 tot 5 Oktober 1939 in Bloemfontein gereël. Daar is die grondplan van die Afrikaner se toekomstige ekonomiese bouwerk geteken. Dit is deur 757 afgevaardigdes uit alle dele van die land bygewoon.

Dr JD Kestell was die beskermheer van die kongres. In sy openingsboodskap het hy beklemtoon "Ons behoort aan mekaar – ons, die kleine Boerevolk hier in Suid-Afrika, en dit dryf ons uit om toe te snel tot hulp van ons broers en susters wat in nood is om hulle te help om hulleself te help. Ons doen dit in die vaste oortuiging dat ons as volk onsself moet red." As ons maar in 2011 hierdie beginsel kon uitleef en nie soos verhoorafwagtendes gesit en vrees het vir die doodsvonnis wat ons volk nou te wagte is nie kon ons hoop vir 'n beter toekoms vir ons en ons kinders reeds gestalte kry.

In die daaropvolgende drie dae is altesaam negentien referate gelewer, elkeen gerig op die ekonomiese opheffing van die Afrikaner. Meer as vyfrig rigtinggewende besluite is geneem, waaruit voortgespruit het daadwerklike stappe ter opheffing van die Afrikaner op ekonomiese gebied, byvoorbeeld die uitbou van die Reddingsdaadfonds, die mobilisasie van die kapitaal- en spaarkrag van die Afrikaner, die stigting van 'n Afrikaanse Handelsblad (Volkshandel) en 'n Afrikaner-finansieringsmaatskappy, Sentrale Volksbelegging Beperk (Federale Volksbeleggins.)

Besluit XII (1) van die kongres het die FAK opgedra om 'n Ekonomiese Instituut daar te stel om gevolg te gee aan sy besluit en om sodanige verdere stappe te doen as wat hy bevorderlik ag vir die ekonomiese opheffing van die Afrikaner. Een van die eerste en bekendste besluite van die Instituut was die stigting van die Reddingsdaadbond.

Uit die Ekonomiese Instituut het ook die stigting van die Afrikaanse Handelsinstituut voorgespruit, wat saam met die Ekonomiese Instituut van die FAK 'n treffend-betekenisvolle aandeel in die opkoms van die Afrikaner in die ekonomie van Suid-Afrika gehad het, danksy die inisiatief en leiding wat uitgegaan het van die Eerste Ekonomiese Kongres in 1939.