1963: EERSTE UITGAWE VAN 'HANDHAAF' VERSKYN

KULTUURDAGBOEK 12 SEPTEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Wanneer ons hier die geskiedenis van die tydskrif Handhaaf uitlig, is dit nie om die beuel van die FAK te blaas nie maar om te toon hoeveel pogings destyds aan die dag gelê is om Afrikanereenheid met gevolglike volksnasionalisme te bewerkstellig, pogings wat vandag meer nodig as ooit geword het indien ons weer volkseenheid wil sien, en pogings waarby ons gerus kan kersopsteek.

Die eerste amptelike tydskrif van die FAK is genoem Handhaaf, en dit kon ongetwyfeld as 'n uitstekende kultuurblad beskou word, enig in sy soort in daardie stadium. Handhaaf het vir hom 'n onmiskenbare plek in die Afrikaanse volkslewe verower.

Dit was 'n klein begin – maar 7 500 eksemplare van sestien bladsye elk wat eintlik nie veel meer as 'n gedrukte nuusbrief was nie, maar die dringende behoefte daaraan het dit regverdig, en dit het die Uitvoerende Komitee van die FAK besef. Hulle moes hul eie spreekbuis kry wat die FAK se saak sou stel om 'n band te vorm tussen instellinge en mense van die FAK, en ook ander gelykgesinde Afrikanerkragte wat tot groter volkseenheid kon lei.

Handhaaf, wat hoofsaaklik aan alle geaffilieerde en meewerkende liggame en alle lede van die FAK gestuur is, het deurgaans 'n bestendige groei beleef en in 1979 by 'n oplaag van 24 500 te staan gekom. Sy leserstal was egter baie wyer aangesien dit in die biblioteke van die Afrikaanse universiteite, kolleges en honderde skole sy plek gevind het waar dit dag vir dag as naslaanbron gebruik is.

Handhaaf-lesers was ook nie tot binne die grense van Suid-Afrika beperk nie. Eksemplare is gereeld versprei na Rhodesië, Brittanje, Wes-Duitsland, Nederland, Oostenryk, België, Frankryk, Italië, Lesotho, Swaziland en selfs Amerika, waar 'n biblioteek om intekening aansoek gedoen het.

Medewerkers van besondere aansien het bygedra tot die inhoud van Handhaaf en die hele lewensterrein van die Afrikanervolk is daarin bestryk: die jeug, die Afrikanervolksgeskiedenis, die Afrikaanse taal en letterkunde, musiek, die uitvoerende kunste, volksfeeste, die sakelewe, die kerklik lewe, volkeverhoudige, die gesinslewe, die onderwys, staatkunde, sport, beskermingsdienste en nog meer.

Van die eerste uitgawe af het 'n vaste rubriekpatroon ingang gevind en van hierdie rubrieke bv Taalsake is later gereeld hanteer. Gedenkuitgawes het ook byval gevind: CJ Langenhoven 1973; dr DF Malan 1974; Totius 1977; en AG Visser 1978, is voorbeelde van groot geeste waaroor dit gehandel het.

'n Onafhanklike lesersondersoek is in 1971 gedoen en daarvolgens het geblyk dat Handhaaf deur nagenoeg 95% van sy lesers deeglik bestudeer en gebruik word. Dit het beteken dat dit uitmuntend aan sy doel beantwoord het naamlik om deur positiewe leiding oor aktuele sake 'n diens aan die Afrikanervolk te lewer wat gelei het tot groter begrip, eenheid en 'n nasionalistiese oplewing in die volkslewe.