KULTUURDAGBOEK 3 SEPTEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
In 1795 het rebelle van Graaff-Reinet hulle teen Kompanjiegesag verset, landdros HCD Maynier verjaag en 'n 'vrye Republiek' verklaar – onderdanig slegs aan die Republiek van Nederland. Met die eerste Britse verowering van die Kaap in 1795 het die rebelle ook hierdie gesag verwerp maar hulle is later verplig om hulle te onderwerp.
Toe die veldkommandant Adriaan van jaarsveld in 1799 op aanklag van vervalsing gearresteer is, het groot protes gevolg maar die daaropvolgende onrus is deur die owerheid onderdruk.
Agtien rebelle is aangekla en meer as 'n jaar lank in die Kasteel opgesluit voordat hulle verhoor is. Marthinus Prinsloo en Adriaan van Jaarsveld is ter dood veroordeel terwyl twaalf ander verban sou word – die meeste van hulle lewenslank.
As gevolg van die tussenkoms van genl-maj Dundas, die waarnemende goewerneur, is die teregstelling uitgestel. Begenadiging is vir al die gevangenes by die Britse owerheid voorgestel. Van Jaarsveld sterf egter in die Kasteel as gevolg van kwale wat noodlottig deur 'n val vererger is, terwyl hy op sy ontslag gewag het.