KULTUURDAGBOEK 14 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
As voorganger van die ASB, is die "Studenten Werda Komitee" op 7 April 1911 te Stellenbosch gestig. Verdere ontwikkelings lei tot die stigting van die eerste Afrikaanse Studentebond in Maart 1916 tydens 'n konferensie aan die Normaalkollege te Pretoria.
Weens 'n verskeidenheid van faktore het daar 'n reeks opeenvolgende studente-organisasies ontstaan, maar geeneen het 'n permanente karakter of funksie gehad nie. Die latere Afrikaanse Studentebond was dus 'n poging van die studenteraad van die Universiteit van Pretoria om weer 'n verteenwoordigende Afrikaanse Studente-organisasie op die been te bring.
Op 26 Junie 1948 word 'n konferensie van die studenterade van Pretoria, Potchefstroom, Bloemfontein en Stellenbosch in Pretoria gehou. Die konsepgrondwet van die ASB is in Augustus 1948 in Bloemfontein aanvaar.
Die studenterade van die UP, PUK vir CHO, UOVS en Stellenbosch, het besluit om te affilieer, terwyl die Afrikaanse studente van UKaapland en Wits (Johannesburg) individueel geaffilieer het. Daar is onder meer besluit dat die verskillende Onderwyserskolleges op dieselfde basis kan affilieer.,
In 1979 was daar nog dertien studenterade of studenteverenigings by die ASB geaffilieer.