KULTUURDAGBOEK 13 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Op hierdie dag het dr DF Malan, Algemene Voorsitter van die ATV in die Kaapkolonie, 'n voorlesing voor die ATV van Stellenbosch gehou, getitel: Het is ons Ernst.
Vir hom was die taalkwessie 'n volksaak en nie slegs 'n saak vir die taalgeleerdes nie. Volgens dr Malan kon Nederlands slegs 'n kunsmatige bestaan in Suid-Afrika voer en nooit die volkstaal word nie terwyl Afrikaans in die volkshart en volksmond leef en die beste kans op voortbestaan in Suid-Afrika gehad het.
Hy noem Afrikaans die "levende, krachtige volkstaal" wat onuitroeibaar is. 'n Lewende volkstaal sterf nie maklik nie want dit is die simbool van 'n selfbewuste nasionale lewe.
Dr Malan pleit in sy beroemde toespraak dat Afrikaans tot skryf- en kultuurtaal verhef word. Hy spreek ook die hoop uit dat jong Afrikaners dit hulle erns sal maak om Afrikaans te beoefen en uit te bou.