KULTUURDAGBOEK 13 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Jacob Hendrik Pierneef is in Johannesburg gebore. Hy was by uitstek 'n landskapskilder, veral van die Transvaal en die Bosveld, die droë vlaktes van die Vrystaat en die semi-woestyn van Suidwes-Afrika.
As jong seun in Pretoria is Pierneef sterk deur die ouer skilder Oerder beïnvloed, maar eerders as om Oerder se objektief-realistiese siening na te volg, het hy sy eie siening van die Suid-Afrikaanse landskap probeer weergee. Hy was ook heelwaarskynlik die eerste kunstenaar van ons land wat hierin geslaag het.
In 1899 vertrek die Pierneef-gesin na Holland waar die jong Henk aan die Akademie in Rotterdam tekenkuns bestudeer.
In Holland, op 'n latere reis, het Kubisme 'n kragtige uitwerking op Pierneef se werk gehad. Dit wou voorkom asof Pierneef nie die teorieë van die Kubisme heeltemal kon verstaan nie, òf hulle op sy eie manier wou toepas want van die ware Kubisme is daar eintik in sy werk nie sprake nie maar wel van geometriese abstraksie. Die bekende skildery Rustenburgkloof is hiervan 'n goeie voorbeeld. Trouens, al die muurpanele wat hy tussen ongeveer 1930 en 1932 vir die Johannesburgse Spoorwegstasie geskilder het, is opvallend dekoratief-liniêr. Hierdie panele vorm moontlik 'n sentrale punt in Pierneef se loopbaan want baie erkenning en verdere opdragte het hieruit voortgevloei, bv die paneel in Suid-Afrika-huis, Londen.
Pierneef se grafiese werk – 'n hele aantal is illustrasies – het hom erkenning by die publiek besorg. Sy produksie as kunstenaar was besonder groot en veelsydig. In sy lino-en houtsneë, tekeninge, akwarelle en olieverskilderye het hy 'n noukeurige beeld van die Suid-Afrikaanse landskap, gewoonlik in dramatiese komposisies, gegee.
As kultuurbewuste Afrikaner was Pierneef ook verantwoordelik vir die houtsnee op die voorblad van die program van die Afrikaanse Taal- en Kultuurkonferensie wat op 18 en 19 Desember 1929 in Bloemfontein gehou is, en by welke geleentheid die FAK gestig is.
Hy is op 4 Oktober 1957 in Pretoria oorlede.