1873: CJ LANGENHOVEN VERJAAR

KULTUURDAGBOEK 12 AUGUSTUS

Lees volledig by Kultuurdagboek

Cornelis Jakob Langenhoven is op Hoeko in die distrik Ladismith, Kaap, gebore. Kort na sy geboorte is sy moeder oorlede. Sy vader se broer, getroud met sy moeder se suster, het hom aangeneem en hulle het hom as hul eie kind grootgemaak.

Hy het skoolgegaan op Hoeko, op Ladismith en Riversdal, waar hy gemaktrikuleer het. Aan die Victoria College op Stellenbosch verwerf hy in 1895 die graad BA en daarna deur private studie die LLB 1899, terwyl hy by 'n prokureur op Ladismith werk.

In Augustus 1899 verhuis hy en 'Vroutjie' met wie hy in 1897 getroud is, na Oudtshoorn, waar hy 'n prokureurspraktyk open.

In 1912 aanvaar hy die redakteurskap van die plaaslike koerantjie 'Het Zuid-Westen' en gebruik dit onmiddellik om propaganda te maak vir die erkenning van Afrikaans as skryftaal.

In 1914 word hy onbestrede verkies tot die Kaaplandse Provinsiale Raad. Drie weke na die begin van die 1914-sitting slaag hy daarin om die Raad eenparig te laat besluit dat Afrikaans toegelaat sal word as medium van onderrig in laerskole in Kaapland. Op 30/31 Mei 1918 skryf Langenhoven die eerste drie strofes van Die Stem van Suid-Afrika in die eetkamer van sy woonhuis Arbeidsgenot op Oudtshoorn. Kort daarna volg, op versoek, die vierde strofe. Die gedig word op 2 Mei 1957 deur premier JG Strijdom tot amptelike Volkslied van Suid-Afrika verklaar.

In die verkiesing van 1920 word hy Volksraadslid vir Oudtshoorn maar reeds die volgende jaar, toe daar weer 'n verkiesing is, verloor hy die setel. Hy word egter in dieselfde jaar tot die Senaat benoem waar hy sy mense tot sy dood toe dien.

Hy was deurentyd 'n uitsonderlike kampvegter vir Afrikaans. Op sy voorstel besluit die Volksraad en Senaat dat Afrikaans in Hansardverslae erken sal word. In 1925 is hy lid van die komitee van die Volksraad wat oorweging skenk aan die erkenning van Afrikaans as amptelike taal. Hy stel die verslag op en die wetsontwerp waardeur die erkenniing gegee word. In die 16 dele van Langenhoven se Versamelde Werke is 'n lys van 42 werke wat daarin opgenaam is. Sommige daarvan het ware volksbesit geword. Hy word seker die meeste van alle Afrikaanse skrywer aangehaal, veral sy spreuke. As skrywer sowel as spreker was hy gewild.

By die toekenning van 'n eregraad aan Langenhoven in 1931, is die rede vir die toekenning met die volgende afgesluit: "... Senator Langenhoven 'skryf' nie maar hy 'praat', ook waar hy die pen hanteer - sodat met waarheid van hom gesĂȘ kan word dat hy sy volk leer lees het. En daarom tref dit besonders gelukkig dat Stellenbosch, wat daarna streef om inderdaad 'n Volksuniversiteit te wees, ook op hierdie dag in een van sy oud-studente, 'n Volkskrywer, kan eer deur aan hom die eregraad van Doctor Litterarium toe te ken."

Op 15 Julie 1932, drie weke voor sy 59e verjaarsdag, is Langenhoven op Arbeidsgenot, Oudtshoorn, oorlede.

In 1973 het die FAK voortou geneem met die landwye viering van Langenhoven se honderdste verjaarsdag en is onder meer stelle gedenkpennigns in goud, silwer en brons uitgegee. 'n Heruitgawe van sy Versamelde Werke het toe ook die lig gesien.