1771: RIJK TULBAGH

KULTUURDAGBOEK 11 AUGUSTUS

Lees volledig by Kultuurdagboek

Twintig jaar lank was Rijk Tulbagh 'n beminde en gerespekteerde goewerneur aan die Kaap - tussen 1751 en 1771. Hy is op 14 Mei 1699 in Utrecht, Nederland, gebore en kom as sestienjarige in diens van die VOC na die Kaap waar hy deur sy ywer en pligsbesef vinnig vordering gemaak het.

Toe hy in April 1751 sy swaer, Hendrik Swellengrebel as goewerneur van die Kaapkolonie opvolg het hy reeds waardevolle ondervinding van bestuursake aan die Kaap gehad. Die jare van Tulbagh se bestuur was 'n tyd van rustige uitbreiding. Op sy inisiatief vind daar verskeie ekspedisies na die binneland plaas.

In 1754 pak hy ook die konsolidasie van die slawewette aan om dit in ooreenstemming met die vereistes van sy tyd te bring. Weens die swierige en weelderige lewe van die amptenare van die VOC veral in die Ooste, is die sogenaamde 'Prag- Praalwette' deur die goewerneur-generaal van Batavia in 1754 uitgevaardig. In gewysigde vorm pas Tulbagh dit ook toe aan die Kaap en hef beperkings op weelderige koetse en uitspattige kleredrag, op die gebruik van sambrele wat 'n statussimbool was, op oordadige huweliksfeeste en begrafnisse.

Tulbagh het 'n wye belangstelling gehad, onder meer in die plante- en dierelewe aan die Kaap. Hy stuur gereeld monsters van plante en opgestopte diere na Nederland. Die beroemde plantkundige Kinnaeus het 'n leliesoort na hom vernoem – die bekende Tulbaghia.

In 1725 is Tulbagh met Elizabeth Swellengrebel getroud, 'n Kaapsgebore dogter van die stamvader. Sy was dus 'n suster van Tulbagh se voorganger, goewerneur Swellengrebel. Rijk en Elizabeth se twee seuns is albei jonk oorlede en toe ook Elizabeth in 1753 na 'n langdurige siekte sterf, was dit vir hom 'n swaar slag.

Rijk Tulbagh het hom volkome met sy nuwe vaderland vereenselwig. Sy wysheid en mensliewendheid het hom algemeen bemind gemaak en die eretitel van 'Vader Tulbagh' besorg.

Hy is in 1771 in Kaapstad oorlede.