KULTUURDAGBOEK 10 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Louis Trichardt (Tregardt) is op hierdie dag op Oudsthoorn, in die distrik Swellendam gebore. Later het hy op verskillende plekke in die Graaff-Reinet distrik geboer, en teen 1834 was hy in die omgewing van die Wit Kei gevestig.
Ontevrede oor die voortdurende Xhosa-strooptogte, die Britse filantropiese beleid en die vrystelling van die slawe, het hy die Kaapkolonie vroeg in 1835 met 'n aantal medeburgers verlaat. Naby Bethulie het hy oor die Oranjeriveir getrek, en daarna het hy die Caledonrivier bereik waar die trek van Johannes J Janse van Rensburg by hom aangesluit het. Gesamentlik, maar afsonderlik, het die twee geselskappe noordwaarts getrek tot by die Strydpoortberge waar hulle geskei het.
Trichardt het hom mettertyd op verskeie plekke in die omgewing van die Soutpansberg gevestig waar hy meer as 'n jaar vertoef en 'n patrollie van Andries H Potgieter hom aangetref het.
Sy geselskap vertrek in Augustus 1837 op die moeisame en rampspoedige tog deur die Laeveld en oor die Drakensberg na Lourenco Marques. Geteister deur malaria, bereik die gehawende geseldskap Lourenco Marques in April 1838 waar eers Trichardt se vrou, en daarna hyself op 25 Oktober 1838 beswyk.
Trichardt se Dagboek is 'n belangrike historiese bron terwyl hy deur sy trek nie net die noordwaartse roete vir die Voortrekkers gebaan het nie maar ook die begeerte geprikkel het by sommige om hulle in die oor-Vaalse gebied te vestig.