KULTUURDAGBOEK 9 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Op hierdie dag in 1918 het Afrikaners met groot geesdrif op Riversdal in die Kaap saamgetrek om 'n Taalfees te hou in 'n stadium toe Afrikaans nog nie amptelik erken is nie maar op alle terreine van die samelewing veld gewen het.
CJ Langenhoven praat oor Afrikaans in die huis, prof NJ Brümmer praat oor die gebruik van Afrikaans in die staatsdiens, prof JJ Smith oor Afrikaans in die skole, dr DF Malan oor Afrikaans in die kerk en Jan FE Celliers praat oor Afrikaans in die letterkunde.
Ds D Wilcocks bepleit toe die oprigting van Afrikaanse taalmonument waarop Langenhoven die pleidooi geesdriftig toejuig maar voorstel dat die monument die vorm van 'n gedenkfonds moet aanneem wat aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit gegee moet word met die opdrag om Jan Celliers in staat te stel om sy talente in diens van die ontwikkeling van die taal en die jeug te gebruik.