1938: BEGIN VAN SIMBOLIESE OSSEWATREK

KULTUURDAGBOEK 8 AUGUSTUS

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op 24 Mei 1934 het die Uitvoerende Raad van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) besluit om 'n spesiale aandeel te neem in die totstandkoming van die Voortrekkermonument. Op 3 Augustus 1936 is in beginsel besluit dat 'n Voortrekkerwa vir die ATKV gebou word om aan 'n simboliese trek in 1938 deel te neem. Uiteindelik het tien waens amptelik deelgeneem en die ATKV het later besluit om die waens soos volg te versprei: Die Johanna van der Merwe staan in die Voortrekkermonument by Pretoria; die Andries Pretorius in sy eie museum op Hartenbos; die Louis Trichardt (Tregardt) by die Universiteit van Pretoria; die Vrou en Moeder by die Meisieskool Oranje in Bloemfontein; Magrietha Prinsloo by die Hoërskool Cillié in Port Elizabeth; die Piet Retief aanvanklik aan die Natalse Voortrekkerbeweging in Durban – later ook na Hartenbos; die Sarel Cilliers aan die Vrystaatse Voortrekkerbeweging en gehuisves op Ciliers se plaas naby Kroonstad; die Dirkie Uys in besit van die Krygsmuseum. die Hendrik Potgieter en die Magdalena de Wet aan die Potchefstroomse en Stellenbosch se Universiteite onderskeidelik.

Dit is die sigbare afloop van die emosionele, simboliese trektog wat op 8 Augustus 1938 aan die voet van Jan van Riebeeck se standbeeld in Kaapstad begin het en in Desember 1938 by Pretoria geëindig het. Maar die rit self het 'n seëtog geword. Aanvanklik is met effense spot na die waens by Van Riebeeck se standbeeld gekyk, maar dorp na dorp en stad na stad het by hierdie Afrikanerstoet ingeval.

Op pad is ons geskiedenis vertel, het kore gesing, is voordragte gehou, is kinders gedoop, het jong Afrikanerpaartjies aan mekaar trou beloof, het oud en jonk, sakeman en stasievoorman om die kampvuur ons volksliedjies uit die FAK-sangbundel van 1937 gesing. Ook talle toesprake is gehou waardeur die Afrikanerdom besiel is.

Die politieke verwarring van 1933 tot 1935 toe genls Hertzog en Smuts saamgesmelt het en dr Malan eenkant gaan staan het, was tydelik vergeet. Afrikanerkultuur het die koepelwoord geword. Boeresport, die Voortrekkerbeweging en die volkspele het pragtige steun ontvang en hulp verleen. Gemeenskappe wat aanvanklik sku was om feeste te reël het later vlam gevat en programme uit die hoogste rakke aangebied. Feesboodskappe is opgestel, gedenkspore is by kerkgeboue getrap en gedenktekens op dorpspleine opgerig. Kennis oor die Afrikaner en sy ideale het wyd versprei. Weerbarstige munisipaliteite wat die Trek wou verongluk, het met Afrikanerverset te doen gekry. In Port Elizabeth het dr Otto du Plessis die destydse burgemeester voor die bors gegryp en hom belowe dat die Trek inderdaad deur hierdie Setlaarstad sal trek, en dit wás so! Die Afrikanervrou het opnuut 'n sieraad in ons volkslewe geword, want oral langs die pad is haar historiese rol besing en haar toekomstaak beklemtoon. Talle versamelstukke is byeengebring en in musea vir veilige bewaring geplaas. Kerkdienste is gereeld gehou en die Simboliese Ossewatrek het vir talle volksgenote 'n besonder religieuse ervaring geword.

In baie gevalle is van die oorspronklike trekroete afgewyk ten einde bykomende besoekpunte in te pas.
Die dra van Voortrekkerklere en die verkoop van tradisionele snuisterye het verdere luister aan die gebeurtenisse verleen. Voorwaar, die 25 000 mense wat in Kaapstad die vertrek meegemaak het, het verder duisende langs die roete geword sodat perderuiters, vlaghysings, historiese vertelings, oorhandigings of aanbiedings telkens deur 'n Afrikanerskaar omring is.

Van groot betekenis was die oorhandiging van besondere Bybeluitgawes, ook reeds met die vertrek uit Kaapstad, aan lede van die trek of dan vir bewaring in 'n bepaalde gemeenskap deur een of ander Afrikanerliggaam.

Die Simboliese Ossewatrek van 1938 het 'n diepgang en ywer rakende Afrikaner-eiegoed gebring wat hom veilig deur die chaos en politieke onrus van die Tweede Wêreldoorlog sou dra.