1885: DS ML DE VILLIERS, KOMPONIS VAN DIE STEM VAN SA

KULTUURDAGBOEK 31 JULIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Marthinus Lourens de Villiers is op hierdie dag in die Paarl gebore. Hy was die oudste seun van Dirk de Villiers, wat self 45 jaar lank orrelis op Wellington was en saam met sy vrou Tina, aan die hoof van hulle eie Musiekinstituut gestaan het.

Marthinus het min formele onderrig van sy ouers ontvang maar het gou in 'n bruikbare pianis, violis, orrelis en klarinetspeler ontwikkel.

Na matriek studeer hy drie jaar lank aan die Hugenote Kollege in Wellington, en behaal die BA-graad in 1904, 'n jaar na die eerste publikasie van een van sy komposisies: ' 'n Mars vir klavier'.

Van 1905 tot 1907 gee hy onderwys op Wepener, waar hy die spil word waarom die dorp se musieklewe draai – hy stig 'n blaasorkes, gee les in verskeie musiekinstrumente, word orrelis van die NG Gemeente en bring 'n kerkkoor op die been vir wie hy koorstukke komponeer.

Die besoek van die destydse vermaarde Bosman de Ravelli aan Wepener en dié se aanmoediging en wenke het 'n heilsame en vormende invloed op ML gehad. Hier, ook, maak die verwoesting wat die Tweede Vryheidsoorlog gesaai het en die moedige pogings tot heropbou, 'n diepe indruk op die tot dusver half-Engelsgesinde Kapenaar; en verder gesteun deur die sterk Afrikanergevoel van sy boerenooi, Minie du Plessis, met wie hy later trou, en sy persoonlike kennismaking met pres Steyn, ondergaan sy volksgevoel 'n metamorfose: tot aan die einde van sy lewe bly hy 'n pro-Afrikaner-volksman.

Sy nuutgebore aangetrokkenheid tot sy moedertaal kry beslag in die vier jaar (1908 tot 1911) waarin hy aan die Kweekskool op Stellenbosch studeer en hy skep sy eerste toonsetting van Afrikaanse gedigte, waaronder 'Oproep tot stryd vir die Moedertaal' (woorde NJ Brümmer).

Na 'n kort werktyd as hulpprediker in Beaufort-Wes in 1912, aanvaar hy nog in dieselfde jaar 'n beroep na Bedford waar hy as predikant werk tot 1918. Weer eens stig hy 'n orkes en 'n koor en organiseer hy talle konserte. Nog belangriker is dat hy baie liedere skryf, dikwels met 'n patriotiese inslag soos 'Ik ken 'n liefste Volksman, Helpmekaarslied, Slagtersnek,' ens. In hierdie tyd ontmoet hy groot volksfigure soos genl Hertzog, dr DF Malan en CJ Langenhoven.

In 1919 verhuis hy na Simonstad en skryf byna onmiddellik in as buitemuurse student by die Universiteit van Kaapstad, waar hy etlike jare lank komposisie onder prof WH Bell bestudeer; die uitwerking hiervan op die harmoniese vorm van sy later komposisies, veral in sy 'Vier Kunsliedere' is tekenend.

Sy blywendse prestasie is egter dat hy, na 'n mislukte eerste poging, in 1921 'n uitstekende toonsetting van Langenhoven se pragtige Die Stem van Suid-Afrika maak wat tot 1994 ons land se amptelike Volkslied was. Baie van sy ander komposisies word in die twintigerjare gepuliseer; waar hy op Bedford meesal sy eie woorde getoonset het, maak hy nou op aandrang van adv HA Fagan veel meer gebruik van die digwerke van erkende digters soos Celliers, Keet, ens. In samewerking met sy neef, PK de Villiers, publiseer hy ook twee reekse skoolliedere wat jare lank groot aftrek kry.

In 1930 tree hy uit die predikantsamp, vestig hom op Wellington en  onderneem – tot sy uittrede uit die publieke lewe in 1945 – vyftien landsreise gewy aan lesing-uitvoerings, meesal by skole. Talle skoolliedere vloei uit sy pen, en ook vele ander komposisies insluitende meer as 'n dosyn aanvaarde volkspeleliedere.

In 1940 ontvang hy die SA Akademie se Erepenning, en in 1957 word sy toonsetting van Die Stem as amptelike Volkslied deur die Parlement aanvaar.

Na 'n rustige oudag op sy tuisdorp, sterf hy op 17 Mei 1977 op 91-jarige ouderdom.

Sy musiektradisie word onder andere voortgesit deur sy seun, Dirk – hoof van Musiek, OVS Onderwysdepartement – en kleinseun Johan – dirigent van die Stellenbosch Universiteitskoor – en kleindogter Suzanne, 'n beroepsaltviolis.