1845: OHRIGSTAD AANGELÊ

KULTUURDAGBOEK 29 JULIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Toe Natal op 12 Mei 1843 deur Brittanje geannekseer is, was nie alleen die gebied vir die Trekkers verlore nie maar ook die seehawe en die moontlikheid om 'n geestelike en handelsverbinding met Holland aan te knoop.

Vir Andries Hendrik Potgieter was dit genoegsame motivering om in die rigting van Oos-Transvaal te trek, hoewel daardie streek ongesond en nie so geskik was vir boerdery as die omstreke van Potchefstroom nie.  Maar daar sou hy immers buite die grense van die Britse invloedsfeer leef en in staat wees om lewensnoodsaaklike kontak met die Portugese hawens te maak.

In Junie 1845 het 'n groot deel van die Potchefstromers Potgieter in 'n oostelike rigting gevolg. Die trek het aangeland op 'n plek geleë binne enkele dagreise van Delagoabaai, waar 'n dorp aangelê is met die naam Andries Ohrigstad, ter ere van Andries Hendrik Potgieter en die Amsterdamse koopman, GG Ohrig, wat hom in Holland daarvoor beywer het om handelsbetrekkinge met die Trekkers aan te knoop en met wie se goeie wense JA Smellekamp met die skip Brazilië hierheen gekom het.

U kan heelwat meer te wete kom hieroor in die reeks Voortrekker-pioniers